BEKENDE KLEUTERSKOOL IN NOORDWES STAAR KLAGTES VAN MISHANDELING IN DIE GESIG NA KLEUTER MET TUINSLANG SKOONGESPUIT IS

Childline in Noordwes gaan volgende week ondersoek instel by ’n kleuterskool in Rustenburg waar ’n driejarige seuntjie glo op ’n yskoue dag kaal uitgetrek en in die tuin met koue water uit ’n tuinslang skoongespuit is.

“Ek huil al vir twee dae,” het die seuntjie se ma Woensdag gesê.
“Dit was onaanvaarbaar en ons oorweeg regstappe.”

Die seuntjie en sy ouers se identiteit word weerhou omdat hy moontlik ’n slagoffer van mishandeling was. Hy is glo skoongespuit nadat hy homself bevuil het. Hy en sy tweelingboetie is uit die kleuterskool gehaal sedert die beweerde voorval Maandag.

Maandag was tot dusver die koudste dag vanjaar in Rustenburg terwyl Noordwes gebibber het weens ’n koue front.

Die beweerde voorval by die kleuterskool het opslae gemaak nadat Annelie Nel ’n foto op Facebook geplaas het van die kaal seuntjie nadat hy glo skoongespuit is. Nel vertel sy en ’n vriendin was vroegmiddag êrens anders heen op pad toe hulle by die kleuterskool stop om aanwysings te vra.

“Ons sien toe hoe ’n personeellid die kaal seuntjie agter in die erf met ’n tuinslang spuit terwyl sy lag en die kind skree. Nog ’n personeellid wat toegekyk het, het ook gelag. My vriendin het ’n foto geneem.”

Nel sê sy was so geskok dat sy besluit het om die foto op Facebook te plaas in ’n poging om die seuntjie se ouers op te spoor.

“Iemand het die kind herken en ons kon sy ouers opspoor.”

Die seuntjie se ma sê sy het eers Dinsdagogggend gehoor wat glo gebeur het en haar seuntjie toe dadelik by die kleuterskool gaan haal.

“Hulle het my die vorige dag net voor 13:00 gebel en gesê hy het ’n glipsie gehad en dat ek vir hom klere moet bring. Toe ek daar kom, was hy in ’n handdoek toegedraai. Ek het niks vreemds vermoed nie en het hom huis toe geneem. Hy was wel nie homself nie, ’n bietjie bleek en effens koorsig.

“Die aand het een van die kleuterskoolonderwysers my gebel en gesê sy weet nie of hulle dit reg hanteer het nie, maar hulle het hom met water afgespuit.”

Volgens die ma het die onderwyser gesê hy is in die kombuis met warm water skoongespuit, maar die seuntjie het vir sy ma vertel hy is met “koud water afgespoel”.

“Ek was buite myself toe ek (Dinsdagoggend) hoor wat gebeur het. Sy tweelingboetie het vertel hy kon binne die kleuterskool hoor hoe sy boetie buite skree.”

Die kleuterskool se naam word voorlopig weerhou omdat die hoof Woensdag ’n operasie ondergaan het en nie vir kommentaar beskikbaar was nie. Haar man het gesê sy sal moontlik Donderdag of Vrydag beskikbaar wees.

Alice Carnell, direkteur van Childline in Noordwes, sê indien dit waar is dat die kind met ’n tuinslang skoongespuit is, is dit ’n onaanvaarbare praktyk – of dit nou warm of koud, of winter of somer is.

“Ons gaan die kleuterskool besoek om vas te stel watter praktyke en prosedures in plek is en of hulle geregistreer is. Al was dit net ’n versorger wat verkeerd opgetree het, behoort die skoolhoof op te tree. Daar moet ’n plek by die kleuterskool wees om kinders te was, daar is geen verskoning nie. Ons sal ’n verslag aan die departement van maatskaplike ontwikkeling voorsien.”

Bron: Netwerk 24
Skrywer: Susan Cilliers


Enjoyed this post? Share it!