Bekende Renosterboer van Limpopo koelbloedig vermoor

Hierdie berig in Netwerk24 is weer so geskryf om die aandag af te trek van VOLKSMOORD!

’n Bekende renosterboer van Limpopo, wat verlede jaar deur die Valke in hegtenis geneem is omdat hy glo renosterhorings wou verkoop, is Saterdagnag saam met sy vrou koelbloedig op hul plaas vermoor.

Die bebloede lyke van Piet van Zyl (68) en sy vrou, Tilla (66), is Sondagoggend vroeg in hul plaashuis in die Immerpan-distrik naby Roedtan in Limpopo gekry.

Dit is nog onduidelik of die egpaar doodgeskiet of met ’n mes doodgesteek is.

“Daar moes ’n vreeslike struweling gewees het want alles is met bloed besmeer,” het ’n polisielid, wat op die toneel was maar anoniem wil bly, gesê.

Dit lyk asof die aanvallers by ’n agterdeur ingekom het.

Tilla is in haar slaapklere in die egpaar se kamer op die boonste verdieping gekry. Piet is ook in die kamer vermoor.

Die kluis is oopgebreek maar dit is nog nie bekend wat gesteel is nie.

Nadat die boere in die gebied van die moorde gehoor het, het hulle ná 09:00 die paaie in die gebied versper in die hoop om die aanvallers vas te trek.

Die polisie in samewerking met die Heritage Protection Group (HPG), ’n misdaadbestrydingsorganisasie wat deur oudpolisielede gestig is, soek na die moordenaars.

Spoorsnyers van HPG het duidelike skoensool-afdrukke in sand gevolg, maar teen Sondagmiddag was niemand nog in hegtenis geneem nie.

Paul Maree, Tilla se broer, sê die moorde “wys hoe kwesbaar ons almal is”.

Marcelle Maritz, leier van die VF+ in Limpopo, het die moorde veroordeel. “Dit raak nou ’n situasie waar mense bymekaar moet kom en hande moet vat. Genoeg is genoeg. Ons word uitgemoor.”

*Van Zyl is op 10 Augustus verlede jaar saam met Stephen Mylie en Marco Swanepoel van Pretoria in ’n lokval van die Valke in hegtenis geneem toe hulle na bewering vyf renosterhorings aan hulle wou verkoop.

Hulle het die Valke daarna na ’n huis in Equestria in Pretoria geneem waar nóg drie renosterhorings na bewering aangetref is.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê in ’n opvolgondersoek is op nog 105 renosterhorings in dieselfde huis beslag gelê.

Van Zyl het beweer dat die renosterhorings wettig aan hom behoort. Hy het skuld op die aanklagte ontken.
Die Valke sou die dokumente nagaan om vas te stel of dit wel so is en DNS-toetse sou gedoen word om te bepaal of die renosterhorings van gestroopte diere is.

Van Zyl is in die Pretoriase landdroshof op borgtog van R20 000 vrygelaat.
Mylie en Swanepoel is elk op borgtog van R10 000 vrygelaat. Hulle moet eersdaags weer in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Van Zyl was in Desember erg ontsteld toe ’n renosterkoei op sy plaas in die Immerpan-distrik doodgemaak is. Hy het toe gesê: “Ek gee moed op. Dit kan nie so aangaan nie, ons diere word almal doodgemaak.”

Hy het gesê die renosterkoei wat afgemaai is, was die tiende van sy renosters wat gestroop is.

“Al my diere is onthoring, maar die stropers is so arrogant hulle maak steeds die diere dood. Vir wat?”

Tilla het toe gesê dat vier van hul renosters in 2015 op Oukersdag vir hul horings doodgeskiet is.
Die egpaar het gewapende wagte aangestel om hul renosters te beskerm.

Die egpaar laat ’n seun en twee dogters agter.

Enjoyed this post? Share it!