Beroemde Fietsryer Jan Hettema vanoggend op sy plot doodgeskiet

Die legendariese kampioenfietsryer en tydrenjaer Jan Hettema (82) is Woensdagoggend op sy kleinhoewe in Boschkop in die ooste van Pretoria doodgeskiet.

Sy eksvrou, Joan Hettema, het dié nuus aan Netwerk24 bevestig.

 Volgens Joan is Hettema tussen 08:00 en 09:00 Woensdagoggend in die gesig geskiet en is hy op slag dood.

Hettema was ’n vyfmalige Suid-Afrikaanse tydrenkampioen en dubbele Springbok.

Volgens inligting is sy vrou, Elsa, vasgebind en aangerand.

Sy kon haarself ná ’n uur loskry en het om hulp gaan soek.

Hettema het in 1956 Springbokkleure in fietsry gekry toe hy aan die Olimpiese Spele in Melbourne deelgeneem het, waar hy ’n vierde plek behaal het.

Hettema se dogter, die bekroonde sangeres Helena Hettema, was in Namibië op vakansie toe sy die nuus ontvang het.

Sy is onderweg na Suid-Afrika.

“Sy is gebroke,” sê Joan. “Sy is veronderstel om Saterdag in Pretoria op te tree en probeer sterk wees.”

Hettema het ook per geleentheid saam met sy dogter opgetree.

Boodskappe van medelye is op Helena se amptelike aanhangersblad op Facebook gedeel.

“Liewe Helena, innige simpatie met die verlies van jou pa. My pa het Vrydag saggies heengegaan, hopelik ontmoet jou pa en myne mekaar daarbo,” skryf Bruce Andries op dié blad.

Mariette Viviers skryf: “Helena, ek is so jammer vir die massiewe verlies! Weet hoe geheg julle aan mekaar was!”

Bron Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!