Bestuurshoof van Solidariteit skryf vir omstrede omroeper van Jacaranda FM: ” Ek is moeg vir rasboelies!”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, skryf vir Tumi Morake van Jacaranda FM:

Beste Tumi

Ek is wit en moeg daarvoor om op grond van my ras geboelie te word. Ras is nie my primêre identiteit nie, maar ek word kort-kort in ʼn posisie geplaas waar ek dit moet verdedig. Ek, en waarskynlik jy ook, smag daarna dat ons verby ras moet kom.

Ongelukkig is dit deesdae mode om wit mense te boelie. Al die probleme het begin toe Jan van Riebeeck (hoor wit mense) hier aangekom het. Wit “boytjies” moet hulle gedra. Wit mense moenie geslag word nie, in elk geval nie nou nie. Wit mense is vreemdelinge in die land, kolonialiste van ʼn spesiale aard. Met wittes moet gedoen word wat Hitler met die Jode gedoen het. Ons moet selfs met bazookas geskiet word. Al hierdie dinge is deur politici en mense in leiersposisies gesê. Boelies met gesag.

Hierdie rasseboeliegedrag is in die openbare diskoers aanvaarbaar. Dis só aanvaarbaar dit haal nie eens die nuus nie.

Wit mense moet tog so versigtig wees wat hulle sê. Hulle moet op oordrewe wyse wys hulle is nie rassisties nie, maar die rasboelies gaan net voort.

Laat ʼn wit mens nou waag om te verbrou, dan is dit op al wat ʼn voorblad is. Dit kan net kleinskaalse brouwerk wees soos in die gerekende ekonoom Chris Hart se geval, dan is jy weg.

Wit mense word in die werkplek geboelie. Valse klagtes van rassisme vernietig loopbane. Ons is steeds besig met die saak van ʼn wit vrou wat daarvan beskuldig is dat sy die k-woord gebruik het nadat sy swart kollegas dissiplinêr aangekla het. Daar is later erken dat die klagte teen haar vals was en versin is om uit die moeilikheid te kom. Sy is nogtans verplaas.

Spanningsvlakke loop hoog. Sielkundiges spesialiseer in depressie onder wit mense as gevolg van vervreemding in die werkplek. In my eie doktorale studie was ek geskok om te sien hoe hoog wit mense se vervreemdingsvlakke is.

Vervreemding lei daartoe dat wit mense magteloos voel. Hulle is ín ʼn situasie, maar nie déél daarvan nie. Hulle begin betekenisloos voel. Maatskappye word selfs gestraf omdat wit mense daar is. Veral in die werkplek voel hulle geïsoleer en uiteindelik begin hulle van hulself vervreemd raak, wat tot vlakke van depressie lei. Wat die spanning opjaag, is dat die moraliteit van die dag hulle nie toelaat om te sê hoe hulle voel nie.

Ten spyte van dié gevoelens bly wit mense lojaal aan die land, hulle presteer goed, wil hier bly en, volgens die Instituut van Rasseverhoudinge, is gevoelens van rassisme oor die algemeen, ook onder swart Suid-Afrikaners, baie laag. Tussenras-verhoudinge is oor die algemeen in die daaglikse omgang van mense nie sleg nie.

Natuurlik is daar swart mense wat ook op verskeie vlakke en as gevolg van verskeie redes vervreemd voel. Dit is ʼn werklikheid, maar dit maak nie die gevoel wat wit mense beleef, ongedaan nie. Albei groepe moet daaroor kan praat en dit deel.

Die vervreemding van wit mense is deel van my werk. Ek word elke dag daarmee gekonfronteer. Ek is nie deel van die media-elite of die liberale wit elite nie, maar ek is gereeld op fabrieksvloere, by mynskagte en tussen personeel by universiteite.

Gewone wit werknemers beleef boeliegedrag elke dag, maar dit is nie deel van die openbare diskoers nie – dis hoogstens deel van die braaivleisdiskoers.

Dit is ’n diskoers waarvan jy nie weet nie want die politiek korrekte hoofstroom het die morele stilswye van die verlede daarop gelê.

Soms borrel dit uit en dan vra die korrektes: “Waar kom dit vandaan?” Tumi, dit is wat op die oomblik met jou gebeur. Jy het ’n naald in ’n sweer gedruk. Jy verstaan dit nie want dit word weggesteek.

ʼn Deel van die sweer se negatiewe kant borrel op sosiale media uit. Daar is ongelukkig mense wat ras met ras wil beveg, maar die oorgrote meerderheid is gewone, goeie mense wat gefrustreerd is, maar hier wil bly, wil werk, ʼn bydrae wil lewer en goed met ander rassegroepe oor die weg wil kom.

Wit mense probeer om op verskeie plekke te ontsnap. Een so ʼn veilige plek is hul motors. Dit is hul plek. Van hulle luister na musiek oor radiostasies soos Jacaranda FM. Ten spyte van die verkeer is dit tog ’n plek waar hulle rustig kan wees, na musiek kan luister met omroepers wat die atmosfeer fasiliteer.

Wat het jy toe gedoen? Jy dring hul veilige plek binne en wys hulle tereg. Jy gebruik die analoog van die boelie (hoor wit mense) wat die fiets met geweld by die maatjie (hoor swart mense) afgevat het. Die maatjies hoor dan hulle moet nou die fiets deel. Die maatjie by wie die fiets weggevat is, voel daar was nie vergelding nie, want die boelie is nie gestraf nie. Boonop is die boelie nog beloon ook, want hy mag steeds met die fiets speel.

Is jy verbaas dat ʼn deel van jou lojale luisteraars woedend is? Hulle is ontnugter oor hul radiostasie wat hulle in hul veilige plek toegelaat het. Hulle word orals gebombardeer; hulle wil nie in hul motors ook op die vingers getik word nie.

Kortom, jy sê wit mense het wat hulle het omdat hulle dit met geweld gevat het; daar moes eintlik vergelding gewees het; hulle moes eintlik gestraf gewees het; en wat hulle het, moes eintlik van hulle weggeneem gewees het. Wit mense moet dus eintlik dankbaar wees.

Jy gaan selfs verder en sê jy haat dit dat jy om verskoning moet vra en moet verduidelik omdat jy pro-swart is. Jy praat van jou mense is “the people of the soil”. Wit mense is nie jou mense nie en daarmee impliseer jy hulle is nie deel van “the soil” nie. Jy sê eintlik dat wit mense kolonialiste is.

Jou hele gevoel was: “Bly tog net stil, julle was ʼn klomp onderdrukkers. Julle het eintlik jul regte verloor en is vreemdelinge wat dankbaar moet wees dat julle dit gegun word om hier te wees.”

Daar is wel ʼn probleem, want dit is nie net “jou” mense wat na jou luister nie. Dis Jacaranda FM-mense wat na Jacaranda FM luister. Volgens jou is wit mense nie jou mense nie, maar hulle is jou luisteraars.

Ironies genoeg gebruik jy die analogie van ’n boelie om van ’n platform wat jou ’n sekere mate van mag gee, te boelie. Jy het jou platform misbruik. Dit gaan nie daaroor dat jy jou gevoelens uitgespreek het nie; inteendeel, ek wil hê ons moet meer en openliker praat. Dit gaan egter wel daaroor waarvandaan en vanaf watter platform jy hierdie uitsprake maak.

Tumi, jy sê jy het kinders wat nog in dié land moet grootword. Ek het ook kinders. Hulle moet ook nog in hierdie land grootword. My kinders is die elfde geslag in Suid-Afrika. Ons sien onsself as van Afrika-grond. My taal en identiteit het in Afrika ontwikkel. Ons het nie as Afrikaners in Suid-Afrika aangeland nie; ons het dit hier geword. Ons het nêrens om heen te gaan nie en ons wil nêrens heen gaan nie.

Ons gaan net hier bou en bly, maar ons gaan nie stilbly nie.

In die afgelope week het die Instituut van Rasseaangeleenthede ʼn verslag uitgebring wat wys dat die absolute oorweldigende meerderheid Suid-Afrikaners voel hulle het mekaar nodig. Ek is een van daardie mense. Dalk moet ons die debat in Suid-Afrika skuif na wedersydse erkenning en respek sodat ons kinders vry en veilig op hulle fietsies kan ry. Daardie debat begin by jou en my.

Groete

Dirk Hermann

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!