Betogers maak weer amok in Lichtenburg

ʼn Groep betogers het Dinsdagoggend die strate van Lichtenburg ingevaar en chaos in dié Noordwes-dorpie veroorsaak.

Volgens brig. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder, het ontstoke inwoners van Blydeville glo verskeie paaie met voorwerpe versper en ook ʼn vragmotor aan die brand gesteek.

Mokgwabone het motoriste versoek om van alternatiewe roetes gebruik te maak. Hy het nie die rede vir die betoging bekend gemaak nie.

Marius Müller, nasionale veiligheidskoördineerder van AfriForum, het aan Maroela Media gesê die situasie in die dorp is gespanne.

“Daar is onbevestigde gerugte dat ʼn betoger glo deur ʼn motoris geskiet is. Daar is ʼn groot polisieteenwoordigheid na die dorp ontplooi,” het Müller gesê.

Volgens Müller betoog die inwoners glo oor ʼn tekort aan dienslewering en bewerings van korrupsie in die munisipaliteit.

Mokgwabone kon nie dadelik vir kommentaar bereik word oor die beweerde skietvoorval nie.

Betogers het vroeër vanjaar ook die strate ingevaar om oor dienslewering te betoog. Maroela Media het vroeër berig betogers in Lichtenburg het op 24 Mei Daniel Buthelezi, die burgemeester van die Ditsobola-munisipaliteit, gyselaar geneem en ʼn gedeelte van die munisipale gebou aan die brand gesteek. Buthelezi is ure later bevry en 32 verdagtes is in hegtenis geneem.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!