Betogers sny toeriste dorp se krag en water af

Hogsback ‘in duister’ ná betogers strate invaar

Inwoners van die toeristedorp Hogsback sit steeds sonder krag nadat betogers Donderdag glo die elektrisiteit- en watertoevoer afgesny het.

Die betogers, van die Bold Point- informele nedersetting net buite dié dorp, het Donderdag die strate van Hogsback ingevaar weens ontevredenheid oor dienslewering.

Hulle het bome langs die pad afgesny en gebruik om die toegangspaaie na die dorp te versper.

Hoewel die betogers nog nie hul sin gekry het nie, het hulle beloof om die strydbyl tot Maandag te bêre.

“Ons ondersoekspan kan bevestig die elektrisiteit in die dorp is deur betogers afgesny,” het Siyabulela Makunga, woordvoerder van die Amathole-distriksmunisipaliteit, Vrydagoggend bevestig.

Lusanda Menze, munisipale bestuurder, het later gesê die dorp is steeds “in die donker” en ’n tegniese span werk aan die probleem.

Hy sê betogers het nie net kragpale tydens hul betoging afgekap nie, maar ook die elektrisiteitskabels beskadig.

“Die koste van die skade moet nog bereken word.”

Menze sê ook hy veroordeel die manier waarop betogers hul griewe deur vandalisme uitbeeld. “Elke persoon het die reg om sy sê te sê, maar niemand het die reg om eiendom van enige ander persoon te brand of beskadig oor ontevredenheid met die munisipaliteit nie.”

Menze sê hy en ander afgevaardigdes het Donderdagmiddag met die betogers samesprekings gehou.

“Probleme oor dienslewering is genoem en ons het belowe om Maandag die relevante mense van die onderskeie departemente te betrek sodat die probleme uitgestryk kan word.

“In ruil daarvoor het die betogers onderneem om geen protesaksies tot dan te hou nie,” sê Menze.

Kapt. Siphokazi Mawisa, ’n polisiewoordvoerder, het Vrydagoggend gesê die dorp is “betoging-stil” en die polisie handhaaf ’n hoë sigbaarheid.- foto –facebook – Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!