Betogers versper pad, gooi klippe op die R701

Die polisie het Maandagoggend steeds ’n wakende oog by die R701-pad naby Bloemfontein gehou nadat betogers vroeër dié pad versper en motoriste met klippe bestook het.

’n Afleweringsvoertuig is ook uitgebrand en het die pad versper.

Polisielede het die pad begin opruim nadat hulle die betogers verdryf het.

 Inwoners van die township langs dié pad het Maandag in die vroeë oggendure opgeruk en eis plekke waar hulle huise kan bou.

’n Bewaarder by die Grootvlei-gevangenis, buite die stad, was omstreeks 06:10 op pad werk toe, toe hy onder die klipgooiers deurgeloop het.

Die 47-jarige man sê hy het van die N6 afgedraai en het sowat 2 km op die R701-pad gery toe die klippe op

hom gereën het.

“Dit was nog donker daai tyd so ek het niks gesien nie. Ek het net die klippe gehoor. Ek het dadelik omgedraai en ’n ander pad werk toe gery.

“ ’n Ander bakkie wat ná my daar verby gery het, is nog erger beskadig. As ek daar gestaan het, sou hulle my voertuig seker ook aan die brand gesteek het,” sê die man.

Die VW Jetta waarmee hy gery het, is twee keer deur klippe getref.

Sers. Ikobeng Hlubi, polisiewoordvoerder, sê niemand is beseer nie en nog geen arrestasies is gemaak nie.

’n Klag van opsetlike saakbeskadiging word ondersoek.

Bron Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!