Betoging ruk handuit – universiteit gesluit

Vaal universitietBetoging ruk handuit – universiteit gesluit
 Die Vaal-Universiteit van Tegnologie (VUT) in Vanderbijlpark het sy deure Donderdag vir eers gesluit nadat oproerige studente Woensdagaand geboue op die kampus aan die brand gesteek het.

Dit het gebeur nadat studente op 3 Mei begin betoog het teen onder meer die private veiligheidswagte op die kampus.

Die betogings het Woensdag begin handuit ruk.

 Volgens Mike Khuboni, universiteitswoordvoerder, het studente, onder leiding van die studenteraad en politieke organisasies op kampus, eergisteraand verskeie geboue aan die brand gesteek.

’n Rekenaarlokaal is heeltemal verwoes.

“Die studente het ook in verskeie ander geboue matrasse gebrand, lokale se deure afgehaal en die geboue met klippe bestook,” sê Khuboni.

Volgens Khuboni het bewoners tot Donderdagmiddag 14:00 tyd gehad om hul koshuise te ontruim en klasse is ook tot verdere kennisgewing gestaak.

Studente wat nie betoog nie, personeellede en universiteitsgeboue is in gevaar en die universiteit sal alles doen om hulle te beskerm, sê Khuboni.

Die VUT het aansoek gedoen om ’n hofbevel teen die betogers.

Tot dusver is strafregtelike klagte teen twee studente ingedien, sê Khuboni.

“Ons kon die twee studente op die kampus se veiligheidskameras identifiseer en ons is nog besig met ’n ondersoek.”

Khuboni sê hulle het ’n lys van 20 klagtes van die betogers ontvang en het reeds daarop gereageer.

“Ons respekteer die studente se reg om te betoog, maar dit is ook belangrik om die studente wat nie betoog nie se reg ook te respekteer.”

Khuboni sê hulle sal hopelik binnekort kan sê wanneer kampus­aktiwiteite hervat gaan word.

Die betogende studente se eise in hul memorandum sluit in:

*WiFi op verskeie plekke waar studente nie woon nie, moet verwyder word;

*Geld moet beskikbaar gestel word vir BTech-opleiding;

*Alle studente wat kwalifiseer vir lenings van die nasionale skema vir finansiële hulp vir studente, maar wat afgekeur is, moet weer gekeur word;

*Busvervoer moet verskaf word aan studente wat in onder meer Sharpeville en Sebokeng woon;

*Al die instandhoudingdingskwessies op die kampus moet dringend gepak word;

* Die private veiligheidsdiens op die kampus moet verwyder word; en

* ’n Hulpkombuis vir arm studente moet dadelik geopen word.

Mbali Hlophe, ANC-jeugligawoordvoerder in Gauteng, sê in ’n verklaring hulle veroordeel die betogende studente se optrede.

“Om infrastruktuur af te brand, is nie net agterlik nie, maar kortsigtig en ’n mens sal nie dink dat studente wat as intelligent geag word, betrokke sal wees by sulke optrede nie.”

Bron – Nerwerk 24

Enjoyed this post? Share it!