‘Beurtkrag verby’

eskom‘Beurtkrag verby’

Beurtkrag is nou iets van die verlede, aldus pres. Jacob Zuma.

Hy het Vrydag, omring deur ’n groot groep lyfwagte en taktiese polisie, Eskom-personeel by die kragreus se hoofkantoor, Megawatt Park, in Johannesburg toegespreek.

In sy staatsrede het Zuma aangekondig dat die regering ondersteuning sal bied aan verskeie staatsbeheerde maatskappye terwyl hy ook die hervorming sal bestuur wat hulle doeltreffender sal maak in die uitvoering van hul mandaat.

Eskom moes onlangs heelwat bedryfsuitdagings die hoof bied, maar het nege maande lank groot kragonderbrekings en beurtkrag afgeweer.

Zuma het met bestuurders van die land se kragstasies vergader, Eskom se geïntegreede opwekkingsbeheersentrum besoek en die personeel toegespreek.

Hy het gesê dit is sy werk om toesig te hou oor die regering en hy besoek maatskappye en dorpies.

“Daar is nie ’n plek wat ek nie besoek nie. Ek het gekom om te sien hoe ons vaar.

“Verslae wat ek ontvang oor wat aan die gebeur is, kan moontlik nie die hele verhaal vertel nie. Enigeen kan ’n verslag skryf.

“Ek het vroeër aan jul bestuur gesê dat ek nou daarvan bewus is dat ons na daaraan is om ’n jaar sonder beurtkrag te voltooi, en ek sê vir mense dat ons dit nie meer gaan hê nie,” het hy gesê.

“Ek het gewonder, aangesien ek nie hier was nie, praat ek die waarheid?

“Nou gaan ek vir mense vertel daar sal nooit beurtkrag wees nie.

“Ek was hier, ek het dit gesien.”

Zuma het verwys na ’n voorlegging wat hom “vertroue” gegee het.

“Al was ek nie op enige skool nie, het ek dit verstaan. Dit was baie duidelik.

“Ek wou uithardloop in die straat en sê ons het gewen, en hulle sê vir my ons sal gou surpluskrag hê wat ons kan verkoop.” – Bron: News 24

Enjoyed this post? Share it!