Bfn-metro maak reëls om water te spaar Beperkings vir inwoners ingestel

Bfn-metro maak reëls om water te spaar
Beperkings vir inwoners ingestel

water te kort

Foto ter illustrasie: istockphoto.com.

Waterbeperkings is op die Mangaung-metro-raadsvergadering vir Bloemfontein, Botshabelo en Thaba Nchu ingestel, terwyl die prys van metro-water met ’n verdere 20% gaan styg bo en behalwe die 12,9% waarmee waterpryse met die instel van die nuwe begroting op 1 Julie vanjaar reeds gestyg het.
Altesaam 770 000 huishoudings en sakeondernemings wat in die metro geregistreer is, word hierdeur geraak.
Dit is boonop die eerste keer sedert 1983 dat Bloemfonteiners waterbeperkings kry.
Dié inwerkingstelling van die waterbeperkings en verhoging sal by wyse van ’n amptelike kennisgewing van die munisipaliteit geskied nadat openbare deelnameprosesse vir die waterbeperkings afgehandel is.
Dié besluit is op Vrydag se spesiale raadsvergadering geneem waar al die partye in die lig van die waterkrisis eenparig hiervoor gestem het. Kenners meen die metro-gebied kan reeds vroegsomer heeltemal sonder water sit as daar nie nou waterbeperkings kom en dit in die lente voldoende reën nie.
“ DIT IS BOONOP DIE EERSTE KEER SEDERT 1983 DAT BLOEMFONTEIN-ERS WATER-BEPERKINGS KRY. ”
Die besluit van Vrydag se raadsvergadering beteken dat inwoners vir 0 tot 6 kiloliter water waarvoor hulle van 1 Julie af R6,52 per kiloliter sou betaal, voortaan R7,82 per kiloliter gaan betaal.
Vir waterverbruik van 7 tot 15 kiloliter sal inwoners nou R17,89 per kiloliter betaal, pleks van die R14,91 per kiloliter soos wat vanaf 1 Julie in die begroting goedgekeur is. Vir 16 tot 30 kiloliter water se verbruik sal inwoners R18,97 per kiloliter water betaal, pleks van R15,81 per kiloliter.
DA-raadslid Rossouw Botes het in sy toespraak gesê die waterbeperkings is van kardinale belang, omdat die drie belangrikste damme wat die Mangaung-metro van water voorsien, nou gesamentlik 40,1% minder water het as wat in verlede jaar die geval was.
Botes het daarop gewys dat die Rustfonteindam nou 21,5% vol is, teenoor die 28,8% van verlede jaar die tyd, dat die Knellpoortdam nou 44,8% vol is teenoor verlede jaar se 51,5% dié tyd, en dat die Welbedachtdam nou net 77,5% vol is (waarvan 95% toegeslik is), terwyl die dam in verlede jaar die tyd 103,7% vol was (waarvan hy ook 95% toegeslik was).
Boonop het die Groothoekdam by Thaba Nchu heeltemal opgedroog, met 0% water. Altesaam 25 boorgate is vir Thaba Nchu in werking gestel, waarvan sewe ook opgedroog het. Die metro moes vir sommige inwoners van Thaba Nchu verlede week met tenkwaens water aangery het.
■ Johan van den Berg, Santam se landbou-weerkundige in die Vrystaat, sê die hele Vrystaat, Noord-Kaap, Noordwes, Mpumalanga en gedeeltes van Limpopo, asook KwaZulu-Natal, gaan gebuk onder waterkrisisse.
Durban het ook vandeesweek waterbeperkings gekry. Hy het ook laas in 1983 waterbeperkings gehad. Hy skryf die droogtes toe aan die El Nino-verskynsel wat tussen Australië en Suid-Amerika voorkom. Die verskynsel se uitwerking is rampspoedig in sommige dele van die wêreld. Nog ’n rede vir die droogte is die tropiese siklone wat die afgelope twee tot drie jaar in die Indiese Oseaan voorkom. Dit veroorsaak uitdroging in gebiede waarop dit ’n uitwerking het. So ’n uitdrogingsiklus kan volgens hom twee, drie en selfs tot vyf jaar duur.
Van den Berg sê die gevolg is dat dit in Suid-Afrika in baie provinsies nie voldoende gereën het in tradisionele reënmaande soos Januarie, Februarie en Maart in die afgelope twee tot drie jaar nie. Dit het tot die lae stand van damme en riviere gelei. – Deur Marietjie Gericke Saterdag 04 Julie 2015 05:20
News 24

Enjoyed this post? Share it!