Binne 5 uur klap skote op 4 verskillende plekke in Gauteng

Paramedici is Woensdagaand ontbied na vier verskillende skietvoorvalle in Gauteng wat binne vyf uur plaasgevind het.

Die eerste skietery het om 18:38 in Centurion plaasgevind toe ’n gewapende veiligheidswag (33) beroof en doodgeskiet is. Volgens Netcare911 wie se personeel na die toneel ontbied is, was die wag se patrollievoertuig in ’n veld by Olievenhoutbosch, ’n informele nedersetting, toe hy verskeie kere geskiet is. Hy is op die toneel dood verklaar.

Om 21:32 is paramedici na ’n skietery in Soweto ontbied. Nick Dollman, Netcare911-woordvoerder, sê gewapende mans het op ’n huis in Kiwisingel, Protea Glen, toegeslaan en ’n 38-jarige man meer as een keer geskiet.

“ ’n Ander persoon in die huis is vasgebind, maar is nie in die voorval beseer nie,” sê hy.

Die 47-jarige man is een keer in sy onderlyf geskiet, maar het oorleef.

Nick Dollman

Paramedici is kort ná 22:00 na ’n hostel in Klipspruit, Soweto, ontbied. ’n Man is glo geskiet, maar met die paramedici se aankoms was hy nie meer op die toneel nie. Volgens Dollman was daar ’n sterk polisieteenwoordigheid.

In die vierde voorval is nog ’n veiligheidswag by ’n kantoorperseel in Barbeque Downs in Midrand geskiet. Hy het glo gesien hoe vermeende inbrekers toegang tot die kantoorkompleks bekom het en is geskiet toe hy hulle nader.

“Die 47-jarige man is een keer in sy onderlyf geskiet, maar het oorleef,” sê Dollman.

Die polisie ondersoek al vier voorvalle.


Enjoyed this post? Share it!