Bitter koffie sonder suiker lê voor vir grondeise:

Deur: Leanne George
2014-08-30 23:15

Suid-Afrika gaan oor vier jaar nie meer genoeg suiker kan produseer nie, hoofsaaklik weens grondhervorming.

“Daar is sowat 30% van suikerrietplase in KwaZulu-Natal met hangende grondeise. Weens die gepaardgaande onsekerheid herplant boere nie hul suikerriet nie. Dus neem oeste af.

“Die bedryf het ondersteuning in die vorm van belegging, navorsing en nuwe tegnologie nodig,” sê dr. Ferdi Meyer, direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP).

Dit is nie net die dreigende grondeise wat suikerproduksie rem nie, maar ook grondhervormingsprojekte wat reeds misluk het – in sommige gevalle sommer twee keer.

Twaalf spogplase by Heatonville, naby Empangeni, wat in 2002 deur grondeise oorgedra is en waarvan sewe vandag verlate lê, is ’n voorbeeld hiervan.

Dié plase was hoofsaaklik onder suikerriet, maar een was ’n vooruitstrewende visplaas en ’n ander het ook sitrus verbou.

Hennie de Villiers, munisipale raadslid en voormalige lid van Agri SA se uitvoerende komitee, sê hy ry elke dag by die plase verby en die verval sedert 2004 is skokkend.

“Produksie het in 2004 begin daal en sedert 2008 gaan daar niks meer aan nie. Die meeste geboue en strukture is afgebreek.

Sitrusbome word vir vuurmaakhout gebruik. Al die werkers het hul werk verloor en geen mens woon meer op die plase nie.”

Die uThungulu-munisipaliteit se landbou-ontwikkelingsplan van 2011 het aangedui dringende ingryping is nodig op minstens drie van dié Heatonville-plase.

Dit was mislukking nommer een. Die kwessie het selfs in die parlement gaan draai waar die minister vir grondhervorming belowe het om in te gryp met nóg geld.

Tongaat Hulett, een van die land se grootste suikerprodusente, is deur die departement van landelike ontwikkeling en grond­hervorming aangestel as strategiese vennoot om die situasie op vyf van die Heatonville-plase te beredder.

“Sedert 2011-’12 is staatsgeld ter waarde van R8 miljoen ontvang om te verseker die plase word weer produktiewe suikerrietprodusente. Die plase het die laaste drie seisoene ’n totaal van 42 115 ton suikerriet geproduseer en ’n inkomste van R15,5miljoen vir die begunstigdes in die sak gebring,” sê Michelle Jean-Louis, kommunikasiehoof van Tongaat Hulett.

Ondanks dié goeie nuus lê van die plase nou weer braak.

Die totale gebied onder suikerrietproduksie het van 2003 tot 2013 met 14% afgeneem.

BFAP se jongste vooruitskouingsverslag pak die skuld op grondeise, misluktegrondhervorming,siek­tes wat suikerriet aantas, droogtes,verstedelikingenhoër invoere van suiker uit veral Brasilië.

Die staat het onlangs ’n verhoogde invoertarief ingestel om invoer van goedkoop suiker uit Brasilië te verminder.

Die suikerbedryf verskaf werk aan sowat 79000 mense: 11% van die totale poste in die landbou. “Suikerverbruik styg jaarliks met tussen 40000 en 50000 ton. As produksie bly daal, sal ons bykans al ons suiker begin invoer,” sê Charl Senekal, ’n suikerboer van Mkuze in die noorde van KwaZulu-Natal. “Ek besproei met die tegnologies gevorderdste tegnieke en daarom gaan dit nog goed met my,” sê Senekal.

Senekal sê hy verskaf 30% van die suikerriet wat deur die land se 14 suikermeulens gemaal word. Die Gumbi-stam het ’n grondeis op Senekal se plaas.

Hy sê van die suikermeulens meen hulle sal moet sluit as sy plaas tot niet gaan.

Enjoyed this post? Share it!