Black Land First: “Ons vertrou geen wit mens nie”

Ons vertrou nie enige wit mens nie,” het Andile Mngxitama, leier van BLF gesê.

Die Black First Land First-groep (BLF) het Donderdag buite die Johannesburgse hooggeregshof laat hoor hulle meen die uitkoms van hul saak is nou in ʼn wit regter se hande, en hulle vertrou hom nie.

“Teen 12:00 môre [Vrydag] sal ʼn wit regter uitspraak lewer. Hy kom net soos alle wit mense uit ʼn raamwerk wat glo dat sy witheid eerste moet kom.

Dié hof het vroeër ʼn dringende aansoek deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) en ander joernaliste vir ʼn interdik aangehoor. Dié interdik is om te verhoeddat BLF die joernaliste teister, intimideer, aanrand of dreig. Dit is veral joernaliste wat oor die staatskaping berig lewer.

Mngxitama het ook uitgevaar teen verskeie mediahuise, insluitend Naspers, en Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, ʼn “house negro” genoem.

Regter Corrie van der Westhuizen het vroeër gesê hy is tevrede met die aansoek en dat die saak met dringendheid aangehoor moet word. Uitspraak word Vrydag verwag.

Tydens die hofverrigtinge het Thembeka Ngcukaitobi, Sanef se regsverteenwoordiger, Van der Westhuizen versoek om ʼn hofbevel uit te reik dat BLF nie meer die joernaliste mag intimideer nie, dat BLF al hul vorige verklarings op sosiale media moet terugtrek en dat hulle verantwoordelik moet wees vir die regskostes.

BFL-lede het gelag toe dié versoek gerig is.

Mahlatse Gallens, voorsitter van Sanef, het gesê hulle glo die uitspraak sal in hul guns wees. “Ons is hier, want ons wil die gereg eer.

Wat ons nou gesien het, is die teistering van joernaliste wat eintlik net hul werk doen soos dit in die Grondwet vervat is.”

Gallens het bygevoeg daar is niks verkeerd met betogings nie, omdat dit deel is van die land se demokrasie en deur die wet beskerm word. “As jy wil betoog, gaan polisie toe en vra toestemming. Maar om na mense se huise toe te gaan en joernaliste aan te rand is ʼn kriminele oortreding.

Ons wil hê BLF en die hof moet las die optogte mag nie gewelddadig wees nie.”


Enjoyed this post? Share it!