BLF reageer oor graffiti in Ventersdorp

“Maak net soos julle goeddink.” -Só het Black First Land First (BLF) se leiers in Noordwes Dinsdag teruggekap nadat die VF+ hulle by die Menseregtekommissie (MRK) verkla het oor graffiti in Ventersdorp wat glo haatspraak bevat.

Sowat 500 lede van die BLF het op 12 September na ’n plaas in die omgewing opgetrek om die nalatenskap van Steve Biko, vader van die swartbewussynsbeweging, te vier, voordat hulle na die sakekern van Ventersdorp opgeruk het.

Op dieselfde dag het BLF-slagspreuke en graffiti soos “One Settler One Bullet” en “F**k Whites” op padtekens en geboue in die dorp verskyn.

Michal Groenewald, VF+-leier in Noordwes, sê die graffiti is haatspraak en druis lynreg teen die grondwet in.

Die party het ’n strafregtelike klag by die polisie aanhangig gemaak en die BLF by die MRK verkla.

Groenewald beskuldig die groep van “kenmerkende haatspraak en rassehaatgedrewe-optrede” in Ventersdorp.

Hy sê die graffiti is “verdelend van aard, skend goeie verhoudings tussen verskillende groepe in Suid-Afrika en druis lynreg in teen grondwetlike waardes”.

“Hierdie optrede is nie net gelykstaande aan kwaadwillige saakbeskadiging nie, maar is haatspraak, omdat dit lede van’n spesifieke groep in Suid-Afrika teiken,” sê Groenewald.

“Dit is ‘n blatante aanval en oorlogsverklaring teen wit mense in Suid-Afrika en mag onder geen omstandighede toegelaat en ongestraf gelaat word nie.”

Hy het die polisie, howe en instansies soos die MRK daarop gewys dat dit hul plig is om toe te sien dat die gees en strekking van die Grondwet toegepas en uitgebou word deur toepaslike optrede.

Jy moet onthou daar is nog baie Afrikaners in veral daardie gebied wat baie rassisties is en byvoorbeeld op swart mense vloek of hulle selfs aanrand.

Mogomotsi Tlhabanyane

“Hulle (die VF+) is welkom om enige optrede wat hulle goeddink te neem,” sê Mogomotsi Tlhabanyane, voorsitter van BLF in die Noordwes.

“Ons weet nie eens of dit BLF-lede was wat die graffiti aangebring het nie. Dit is onder sulke omstandighede moeilik om mense se emosies onder beheer te hou en jy mag dalk vind dat sekere inwoners wat nie eens aan ons geaffilieer is nie daarvoor verantwoordelik was.

“Jy moet onthou daar is nog baie Afrikaners in veral daardie gebied wat baie rassisties is en byvoorbeeld op swart mense vloek of hulle selfs aanrand.

“Daar bestaan ’n moontlikheid dat diegene wat die graffiti geskryf het, bloot vind ons boodskap vind aanklank by hulle en dat dit ’n manier was om uitdrukking aan hul gevoelens te gee.

“Ek het die graffiti gesien, maar dit is onmoontlik om blaam uit te deel wanneer ’n mens nie eens weet watter individue daarvoor verantwoordelik is nie.”

Volgens hom was die vergadering op 12 September ’n reuse-sukses en het die inwoners wat toegespreek is baie oor swart bewustheid geleer.

“Ons sal met sulke opvoedingsprogramme voortgaan, want dit is verskriklik belangrik in ’n land soos Suid-Afrika wat onder kolonialisme en verdeeldheid gebuk gegaan het.”

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!