Bloemfontein Munisipaliteit spandeer R36 000 aan gebottelde water – sukkel egter om sy waterrekening te betaal

Terwyl die Mangaung-metro sukkel om sy waterrekening van meer as R350 miljoen by Bloem Water te betaal, het Netwerk24 ’n faktuur in sy besit waaruit dit blyk dat sy voorkeuraankope-afdeling peperduur botteltjies drinkwater vir vergaderings aankoop.

Volgens die faktuur is 240 bottels drinkwater teen altesame R36 000 aan die metro gelewer. Dit beteken elke 500 ml-bottel water het R150 gekos.

Maar Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie sê by navraag “dit is ’n tikfout”.

Die water kos in werklikheid R10 per bottel.

Hy het ondersoek laat doen na die oorsprong van die faktuur nadat Netwerk24 hom daaroor uitgevra het.

Bloemfonteinse kettingwinkels vra tussen R6 en R7 vir so ’n bottel water, maar Khedama sê R10 per bottel is die goedkoopste kwotasie wat die metro gekry het.

Luidens die faktuur met die bestelnommer RE000142 in Netwerk24 se besit, kos die 500 ml-bottels water R150 per eenheid. Dit is deur ’n amptenaar van die metro gelek.

Die water is reeds gelewer aan Zolile Mangcotywa, hoofsweep, se kantoor. Hy het die bestelling by die metro se voorkeuraankope-afdeling geplaas.

Volgens die bestelvorm wat hierby aangeheg is, kom die water van Lerato Mokoena se Setsong-restaurant in Rocklands, Bloemfontein.

Teen daardie prys is die botteltjies drinkwater baie duurder as wat vyf jaar oue KWV-brandewyn by die Voortrekker-drankwinkel (reg langs Volksblad) in Bloemfontein, kos.

Vir ’n 750 ml-bottel van dié verouderde brandewyn, hoef jy net R140 per bottel op te dok.

Maar Khedama sê die verskaffingsketting het die tikfout op die eerste faktuur reggestel en ’n tweede faktuur uitgereik.

Die fout op die eerste faktuur was dat elke eenheid (500 ml) teen R150 aangedui is en dat 240 eenhede gekoop is. In werklikheid is 150 pakke van 24 x 500 ml aangevra teen R240 per pak, dus R10 per bottel. Die totale bedrag is steeds dieselfde, naamlik R36 000.

Khedama sê dit is jammer dat die verkeerde inligting na die publiek gestuur is en dat amptenare van die metro die inligting gelek het.

Tot Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, het die oorspronklike faktuur Woensdag op Facebook gedeel.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!