Bloemfonteinse vrou aangerand en verkrag tydens huisroof

’n Bloemfonteinse vrou (42) is Saterdag rondom 03:00 vir meer as twee uur in haar huis in Keeromlaan in Roodewal na bewering deur twee rowers aangehou wat haar glo rondgepluk, aan die hare gesleep en haar beroof het.

Een van die rowers het haar ook na die slaapkamer geneem, waar haar slaapbroek met ’n mes afgesny en sy na bewering seksueel aangerand is.

Brig. Motantsi Makhele, ’n woordvoerder van die polisie, het bevestig klagte van huisroof en verkragting word deur die polisie ondersoek.

Hy sê die slagoffer het nie agtergekom dat daar ingebreek is toe sy vir ’n kort rukkie weg was nie.
“Sy het gaan slaap en die hond het aanhou blaf om haar van die gevaar bewus te maak.”

Makhele sê die twee slagoffers het toe hul verskyning in die huis gemaak en die een het ’n mes uitgehaal en juweliersware geëis. “Die ander verdagte het die slagoffer na haar slaapkamer geneem waar hy haar glo seksueel aangerand het.”

Die aanklagte is by die Bloemspruit-polisiekantoor gelê.

Een van die verdagtes is Saterdagoggend in Bergman Square in hegtenis geneem en ’n tweede, wie se identiteit nou bekend is, word nog deur die polisie gesoek nadat hy van die toneel weggehardloop het.

’n Bron sê die verkragtings-eenheid van die polisie het die geskokte en getraumatiseerde vrou vir verdere ondersoek Saterdag hospitaal toe gebring.

Goedere wat by die vrou gesteel is, is onder meer juweliersware, haar selfoon en ’n fiets.
Volgens ingeligtes word die verdagtes met nog twee ander huisbrake dieselfde nag in die dieselfde omgewing verbind deur middel van hul voetspore en die goedere wat in hul besit gekry is.

’n Selfoondeskundige wat anoniem wil bly, sê hy is Saterdag om 05:00 deur ’n sekuriteitsmaatskappy oor die inbraak by die vrou se huis wakker gebel, waarna hy saam met die polisie en sekuriteitsbeamptes na die huis is.

“Dit is sagteware waarmee die foon verkoop word wat in die geval gebruik is om die verdagtes mee op te spoor wat die gesteelde foon in hulle besit gehad het toe hulle Saterdagoggend in Bergman Square naby Bloemspruit opgespoor is.”

Bron: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!