Blog wat aanvoer dat wit mans in SA van hul stemreg ontneem moet word “nie haatspraak”

’n Blog waarin aangevoer is dat wit mans in Suid-Afrika van hul stemreg ontneem moet word, kom nie op haatspraak neer nie, het die appèlpaneel van die persraad beslis.

Regter Bernard Ngoepe en sy paneel het die vorige beslissing van die persombudsman, Johan Retief, omgekeer.
Die blog getiteld “Could it be time to deny white men the franchise?” is in April vanjaar deur HuffPost SA gepubliseer.

Verashni Pillay, voormalige redakteur van HuffPost SA, het geappelleer teen die ombudsman se beslissing dat die publisering van die blog en die redaksionele opvolgkommentaar, getiteld “This blog on ­white men is going viral.

Here’s our response”, verskeie gedeeltes in die etiekkode vir die Suid-Afrikaanse druk- en aanlyn media oortree.
Pillay het ná die persombudsman se beslissing as redakteur van HuffPost SA bedank en om verskoning gevra nadat dit aan die lig gekom het dat die blog deur ’n fiktiewe persoon geskryf is.

Pillay het Dinsdagoggend getwiet dat haar appèl suksesvol was en haar regsverteenwoordiger, Ben Winks, bedank dat hy die saak pro bono behartig het.

Sy het verder voorgestel dat die persombudsman verantwoordbaar gehou moet word vir die aanvanklike uitspraak.
Ngoepe en sy paneel het bevind die blog, wat deur ’n vals identiteit genaamd “Shelly Garland” geskryf is, verneder nie wit mans nie en blaas nie haat of haatspraak jeens hulle aan nie.

Daar moet plek vir “robuuste debat” in Suid-Afrika wees, het die paneel bevind. “Dit kan wees dat die stuk sekere mense geïrriteer het of ander mense gepla het; maar om dit as haatspraak te klassifiseer is té ver van ’n sprong om te maak,” het die paneel bevind.


Enjoyed this post? Share it!