Boer in tronk na loongeskil

Boer in tronk na loongeskil!!!

iStockPhoto SLC Minilypse-Judicial Court

iStockPhoto SLC Minilypse-Judicial Court


Werkers wat hostelle op ‘n plaas weens ‘n loongeskil afgebrand het, het veroorsaak dat die boer en 12 van sy bestuurders in hegtenis geneem is en ‘n nag in die tronk moes deurbring.
Die boer en sy bestuurders is op 17 September op sy plaas in Marken, naby Ellisras in hegtenis geneem nadat 300 tydelike werkers oor lone in opstand gekom het.
Die boer, mnr. P.J. van der Walt is tans besig om aartappels te oes en daarom was 300 tydelike werkers op die plaas gewees, sê Drickus Botha, die TLU-verteenwoordiger in die noordelike streek.
Volgens hom was daar voordansers wat die werkers begin opstook en intimideer het. Die situasie het handuit geruk en van die hostelle op die plaas is aan die brand gesteek. Die brand het versprei en baie skade aangerig.
Die werkers het dieselfde dag nog klagtes van onder meer diefstal, aanranding en ontvoering teen Van der Walt en sy bestuurders ingedien.
Van der Walt en sy bestuurders is Donderdagaand, 17 September, in hegtenis geneem en het die Vrydagoggend in die landdroshof op Ellisras verskyn op aanklagte van aanrandinge en ontvoering. Hulle is almal op borgtog van R2,000 vrygelaat en verskyn weer op 28 September in die hof.
Volgens mnr. Danie du Plessis, die TLU se verteenwoordiger in die oostelike streek, is dit onaanvaarbaar dat boere, wat hul eiendom wil beskerm, deur die wet verhoed word.
Hy sê hy gaan op 30 September met Oos-transvaal se polisiekommissaris in Nelspruit vergader oor gevalle waar werkers eiendom op plase beskadig.
Dit is onaanvaarbaar dat boere wat eiendom wil beskerm deur die SAPD in hegtenis geneem word. Die gewysigde artikel 49 van die strafproses is veronderstel om vir boere beskerming te bied in die opsig, maar steeds word boere gearresteer. Daar is duidelik onvoldoende wetlike maatreëls om boere te beskerm, het Du Plessis aangevoer.
Botha het bevestig dat klagtes wel teen die werkers ingedien sal word wat op Van der Walt se plaas skade berokken het. Die ondersoek duur voort en geen van die werkers op die plaas is nog in hegtenis geneem nie. -Die Vryburger

Enjoyed this post? Share it!