Boer koelbloedig doodgeskiet terwyl hy aanvallers smeek om sy ma se lewe te spaar

Hanno Steyn (46) se moordenaars het hom doodgeskiet terwyl hy hulle gesmeek het om sy bejaarde ma nie seer te maak nie omdat sy oud en sieklik is.

Steyn, wat sowat 16 km buite Lichtenburg met beeste en skape geboer het, is verlede Vrydag voor sy ma, Zachie, doodgeskiet – op haar 75ste verjaardag.

Die aanvallers het die ma en seun, wat saam op die familieplaas Hibernia gewoon het, vasgebind. Hulle was in ’n kamer in die plaashuis toe Hanno voor sy ma in die kop geskiet is.

Die mans het geld gevra en is met net ’n paar honderd rand weg toe hulle in ’n silwerkleurige voertuig gevlug het, sê Jan Coetzee, ’n familielid
.

“Ons verstaan nie hoekom hulle Hanno moes doodskiet nie. Hy was ’n saggeaarde mens wat dikwels skape en beeste aan mense in die omgewing verkoop het omdat hy hulle jammer gekry het. Hulle het die diere nodig gehad vir begrafnisse.

Hanno sou niemand leed aandoen nie. Soos hy vandag was, so sou hy môre wees.”
Coetzee sê die familie was onrustig oor dié transaksies en het Hanno
gewaarsku dis gevaarlik, maar hy het net gesê hy “kry hulle jammer”.

Die drie moordenaars het juis Vrydag laatmiddag by die plaas opgedaag onder die voorwendsel dat hulle skape wou koop. Hulle het Hanno kort daarna oorval, sy hande met binddraad vasgebind en hom die huis in gedwing. Volgens Coetzee het hulle Zachie met skoenveters in die kamer vasgebind.

Hy sê sy is baie emosioneel en getraumatiseer. Nadat haar seun se moordenaars weg is, het sy van die bed waar sy lyk gelê het, afgegly en op haar boude na die studeerkamer aangesukkel.

“Sy het ’n glasskuifdeur op ’n manier oopgekry en daar gelê en skree en roep na die werkers.”

Een van die skaapwagters het haar eers sowat twee uur ná die aanval gehoor en haar losgemaak. Coetzee was eerste op die toneel nadat Zachie hulp ontbied het.

“Ek het gevra: ‘Tannie, is jy orraait?’ Sy het gesê: ‘Ja, maar Hanno lê op die bed. Hulle het hom doodgeskiet.”

Die mans is nog op vrye voet.

Coetzee het Maandagoggend gesê daar is goeie verhoudinge tussen plaaswerkers en boere, maar die aanvalle en moorde “skep wantroue en beïnvloed verhoudinge negatief”.

Hanno se pa, Gawie, is in 2010 oorlede. Sy suster, Marnie, woon in Lichtenburg.

Hanno word Vrydag om 11:00 uit die Hervormde Kerk in Lichtenburg begrawe.

Bron: Media 24


 

Enjoyed this post? Share it!