Boer skiet aanvaller dood tydens KZN-plaasaanval te Donnybrook

Marius Clark, ʼn boer van Donnybrook in KwaZulu-Natal, het Saterdag ʼn vermeende aanvaller op sy plaas doodgeskiet tydens ʼn plaasaanval waartydens sy kinders ook verbete met die drie aanvallers geveg het.

Ds. Eugene Ferreira van Scottburgh, het aan Maroela Media gesê die Clarks is lidmate van sy gemeente en hy was ná die aanval by die gesin op die plaas Porthill.

Ferreira het gesê die aanvallers het Saterdagoggend omstreeks 08:00 toegeslaan nadat hulle ongeveer 400 meter van die huis af ʼn draad geknip het.

“Die kinders, ʼn dogter in matriek, die tweeling, ʼn dogter en seun in graad 10, en ʼn maat van die seun, was by die huis nadat hulle die vorige dag van ʼn katkisasiekamp teruggekeer het,” het Ferreira verduidelik. Die kinders is in die koshuis op skool in Pietermaritzburg.

Marius se vrou, Lizelle, was reeds op pad werk toe in Donnybrook toe die aanval plaasgevind het. Marius se pa, Kobie Clark, woon in ʼn kothuis naby die plaashuis.

“Marius was met plaaswerk besig en het na die huis teruggekeer om sy sleutels en selfoon te kry, omdat hy na Pietermaritzburg toe wou ry om sake te gaan doen. Die aanvallers was reeds in die huis en het met die tieners baklei toe Marius daar aangekom het. Die kinders het regtig soos besetenes met die aanvallers baklei,” het Ferreira gesê.

“Die aanvallers het Marius oorval en die oupa het intussen kom ondersoek instel oor die geraas wat hy gehoor het. Die oupa se voete is met sy skoenveters vasgebind en sy hande agter sy rug met plastiekkabelbindertjies.

Marius se hande is voor sy lyf met die kabelbindertjies vasgebind. Dit is die Here se genade dat sy hande voor sy lyf vasgebind is.”

Een van die aanvallers het ʼn pistool agter in Marius se rug gedruk en twee van die aanvallers het weerskante met hom geloop.

“Oom Kobie het gesê Marius, wat ʼn oudpolisieman is, het deurgaans net vir hulle bly sê, ‘bly kalm, bly kalm’.”

Toe die mans saam met Marius deur die agterdeur wou loop, kon hy vir hulle verduidelik hulle sou nie almal deur die deur kon kom nie.

“Op ʼn baie vernuftige manier het Marius kon loskom en hy het met sy een skoen die deur teruggedruk. Hy het vir sy seun geskree om sy jaggeweer te bring en, omdat sy hande vasgebind was, moes hy so uit die heup skiet. Hy het een van die aanvallers noodlottig gewond,” het Ferreira bygevoeg.

Twee van die aanvallers het met selfone en die matrikulant se skootrekenaar gevlug.

“Een van die persone wat die selfoon gesteel het, het gisteraand om middernag so ewe Marius se WhatsApp-foto met sy eie vervang,” het Ferreira gesê.

Die kinders is fisisies ongedeerd en Marius het slegs ʼn oppervlakkige wond op sy kuit opgedoen.

Volgens Ferreira was daar drie dae tevore ʼn rooftog met dieselfde modus operandi op ʼn nabygeleë plaas. Die egpaar was nie by die huis nie, en hul huishulp was alleen by die huis met die baba. Die aanvallers het die baba op die grond gesit en vir die huishulp gesê hulle sal die kind vermoor indien sy nie stilbly nie. Dié vrou is na die toneel op die Clarks se plaas gebring en sy het die man, wat noodlottig gewond is, uitgeken as een van die mans wat haar werkgewers beroof het.

Volgens Ferreira het die polisie op die toneel gesê hulle gaan Marius aankla van moord. Hulle het glo glad nie na die welstand van die mense gevra nie.

“Dit maak my woedend dat die betrokke polisiebeamptes nie ʼn snars omgee vir die welsyn van hierdie mense of die kinders nie. Die kinders het regtig verbete teen die aanvallers geveg. Die graad 10-dogter het tydens die aanval ʼn seremoniële swaard in die rigting van die aanvallers gegooi en dit het in ʼn kosyn vasgepen.”

ʼn Vastevlerkvliegtuig van die polisie het ongeveer twee uur ná die aanval in die gebied rondgevlieg en ʼn polisiehelikopter het ongeveer drie ure ná die aanval ook in die gebied bly sirkel.

Ferreira het gesê die oorlede aanvaller is reeds deur die polisie uitgeken. Hy is oorspronklik van Bulwer, op die pad van Donnybrook na Pietermaritzburg.
Hy het gesê die aanvallers het vyf messe en ʼn handvuurwapen gehad.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn saak van huisroof is by Donnybrookpolisiestasie aangemeld. Hy het gesê die plaaslike polisie het na die twee aanvallers, wat gevlug het, gesoek, maar die soektog was nog nie suksesvol nie. “Die ondersoek duur
voort.”

 

Bron: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!