Boer van Breswol, Mpumalanga in maag geskiet tydens plaasaanval

“Tsoti’s!” het ’n plaaswerker alarm gemaak toe vyf mans Saterdagoggend sy werkgewer wou aanval.

Hennie Gerber (72)van Breswol in die Sundra-omgewing in Mpumalanga is in die maag geskiet.

Hy het ook self ’n paar skote afgevuur gekry en volgens die bloed op die toneel rondom die huis en heining is van die verdagtes gewond.

Kapt. Carla Hartley, polisiewoordvoerder, sê die aanvallers het omstreeks 03:00 vir Elias Skosana, die 70-jarige plaaswerker, in sy huis oorval.

TWEE VAN DIE VYF AANVALLERS HET VUURWAPENS GEHAD. DIE PLAASWERKER IS TOE GEDWING OM HULLE NA DIE EIENAAR SE HUIS TE VERGESEL EN TE KLOP

“Twee van die vyf aanvallers het vuurwapens gehad. Die plaaswerker is toe gedwing om hulle na die eienaar se huis te vergesel en te klop,” sê Hartley.

Toe Gerber van binne af aan sy deur vat en dit begin oopmaak, het Skosana, ten spyte van die aanvallers se wapens op hom, geskree: “Tsotsi’s!”.

Gerber het sy vuurwapen by hom gehad en in die oor-en-weer skietery is hy getref.

Skosana is nie beseer nie.

“Dit is in die stadium onbekend wie eerste begin skiet het, maar ons vermoed twee of meer van die aanvallers is ook getref. Dit lyk of hulle om die huis en oor die heining gevlug het en daar is baie bloed op die toneel waar hulle gehardloop het,” het Hartley bevestig.

Gerber is deur ER24-nooddiens na ’n hospitaal in Springs geneem. Sy toestand is nog onbekend.

Gemeenskapslede en die polisie se honde-eenheid was kort daarna op die toneel,Hartley kon in die stadium nie gerugte bevestig dat van die aanvallers reeds gearresteer is nie.

Deur:Hanti Otto/Netwerk24


Enjoyed this post? Share it!