Boer van Koue Bokkeveld aangerand en vir dood agter gelaat

‘n Boer van die Koue Bokkeveld is in ’n bevredigende toestand in die Panorama-hospitaal in Kaapstad nadat hy Maandagaand in sy plaaswinkel met ’n knopkierie aangerand en met ’n mes gesteek is. 

FOTOS NIE VIR SENSITIEWE KYKERS.

IW van der Merwe (52) van die Welbedag-boerdery, sowat 40 km buite Ceres, is volgens sy seun, Pierre van der Merwe, omstreeks 19:00 aangeval.

Mopeli Nkuebe, ’n plaaswerker, ondersteun vir IW van der Merwe nadat hy na bewering deur seisoenwerkers aangerand en vir dood agtergelaat is. Foto: Verskaf

“Ons vermoed van die seisoenwerkers is betrokke. Hulle het ook geld uit die kluis en kasregister, kruideniersware in die winkel, asook flitse en ’n verkyker uit sy kantoor gesteel.

“As die werkers, wat gif in die boorde spuit, nie ’n uur later op sy bebloede liggaam in die winkel afgekom en ons ontbied het nie, het ek nie meer ’n pa gehad nie,” het Pierre gesê.

Pierre (20), sy ma, Juanita, suster, Inge (11), en broer, Zack (7), was in die huis ten tyde van die aanval.

“Ons lei af vier van die 63 seisoenwerkers, wat van Lesotho af kom, het na die winkel gegaan.

“Die mans het gesê hulle soek hul paspoorte en kos. Toe my pa omdraai om die paspoorte uit die kluis te haal, het hulle hom met ’n knopkierie oor die kop geslaan en sy hande en voete vasgebind. Hulle het ’n sak oor sy kop gesit en hom meer as 20 keer in die nek, bors en ken gesteek. Hulle het gedreig dat sy gesin volgende is en hom vir dood agtergelaat toe hulle daar weg is.

“Toe ons daar aankom, kon ons aan sy asemhaling hoor sy long is raakgesteek. ’n Uur later het die ambulans hom kom haal. Sy wonde is geheg. Hy is na die Panorama-hospitaal gehaas en onder sterk verdowing geplaas omdat sy longe platgeval het.

“Weens die beserings aan sy ken sukkel hy om te praat. Hy herstel nou.”

3

Hulle het gedreig dat sy gesin volgende is, en hom vir dood agtergelaat.

Pierre van der Merwe, seun

Volgens Pierre het die aanvallers met hul paspoorte van die plaas af verdwyn.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê Van der Merwe is na bewering deur twee ongeïdentifiseerde mans aangeval nadat hulle geld geëis het. Die polisie ondersoek die saak.

James Vos, DA-kiesafdelingshoof van Witzenberg, sê die voorval beklemtoon die noodsaaklikheid van ’n landelike veiligheidsplan en gespesialiseerde polisie-eenhede.

“Die aantal polisielede in die Koue Bokkeveld moet vermeerder word en die polisiekantoor moet opgeknap word. Ons versoek die provinsiale polisiekommissaris om die landelike veiligheidsplan te oorhandig sodat ons kan vasstel of dit voldoende is.”

2


Enjoyed this post? Share it!