Boer van Noordwes moet plaas ontruim ná doodsdreigemente

ʼn Boer van die Brits-omgewing in Noordwes moes sy plaas ontruim nadat hy glo doodsdreigemente ontvang het en daar gedreig is dat sy huis afgebrand gaan word.

Dit volg nadat verskeie betogings opgevlam het deur lede van die Majakaneng-gebied wat beweer die boer het ʼn 24-jarige man geskiet toe hy lemoene op sy plaas gesteel het.

Maroela Media het vroeër berig twee vragmotors en ʼn paneelwa is vroeër vandeesmaand op die N4-snelweg buite Mooinooi aan die brand gesteek tydens ʼn betoging deur die inwoners. Verskeie voertuie is ook met klippe bestook en
verskillende paaie is versper.

Die inwoners is glo ontsteld omdat niemand nog in hegtenis geneem is in verband met die beweerde skietvoorval nie en die beweerde slagoffer se liggaam ook nie gevind is nie.

Dit is egter nog ʼn raaisel waarheen die beweerde slagoffer verdwyn het en of die voorval hoegenaamd plaasgevind het. Brig. SabatamMokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is steeds besig met hul ondersoek, maar kon tot dusver nog geenmkonkrete bewyse kry om enigiemand in hegtenis te neem nie.

“Daar is twee getuies wat beweer hulle het die voorval sien gebeur. Dit is nie duidelik uitmdie bewerings of die slagoffer net gewond of doodgeskiet is nie. Die polisie het nog geenmgronde gevind om enigiemand in hegtenis te neem nie,” het hy gesê.

Hy het gesê diembeweerde slagoffer het ook nog nie na vore gekom nie en die polisie kon hom tot dusver
nog nie opspoor nie.

Mokgwabone het gesê hy is nie bewus daarvan dat die boer enige dreigemente ontvang het nie, maar sê die betogers het al op twee geleenthede die boer se plaas onregmatig betree. Die betogers het glo gesê hulle kom soek die liggaam van die slagoffer.

“Die eerste keer was verlede week Sondag toe die mense op die plaas gekom en skade aan eiendom op die plaas aangerig het. Die polisie was op die toneel en sommige van die betogers het die perseel vrywillig verlaat. Die res is deur die polisie verwyder.

Twee of drie dae daarna het [die betogers] weer soontoe gegaan, maar die polisie was weer daar en het hulle verwyder.”

Mokgwabone het gesê hy is nie bewus daarvan dat die boer sy plaas moes verlaat nie en dra nie kennis van enige saak wat in hierdie verband by die polisie aanhangig gemaak is nie.

Volgens Hannetjie Grobbelaar, raadslid van die VF-Plus in die Madibeng-distrik, het die boer en sy gesin reeds op 12 Augustus die plaas verlaat uit vrees vir hul lewe.

Grobbelaar het gesê die boer het inligting van betroubare bronne ontvang dat daar beplan word om sy huis af te brand en dit het hom genoop om die plaas te verlaat. Die boer en sy gesin kon glo net die nodigste saam met hulle vat en moes die res van hul besittings agterlaat.

“Gister het verskeie inwoners van die Brits-distrik met bakkies na die plaas gegaan om die res van die gesin se goed te kry. Toe ons daar kom, het ons gesien die gesin se hele huis is geplunder. Ons wou net die mees waardevolle goed vat, maar toe ons daar staan, het ons gewonder wat ons moet vat, want alles is geplunder,” het Grobbelaar gesê.

Die boer kon self nog nie weer na die plaas terugkeer nie uit vrees vir sy veiligheid.

Grobbelaar het gesê sy is ook in die duister oor die beweerde skietvoorval en kan nie bevestig of dit wel gebeur het of nie. Sy sal egter in die week na die polisie gaan om vas te stel hoe die ondersoek na die saak vorder.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!