Boer van Noordwes veg verbete om familie teen gewapende aanvallers te beskerm

‘n Bejaarde boer, Herman du Plessis (78), het verbete geveg om sy familie Sondagoggend vroeg teen drie gewapende aanvallers op die plaas Uitvalgrond in Noordwes te beskerm.

“Toe ek hulle sien, het ek besef ek moet iets doen,” het Du Plessis Dinsdag gesê.

“Ek is seker hulle was hoog op een of ander dwelm. Hulle oë was so groot en wit.”

Du Plessis en sy vrou, Dalene (73), woon in hul “aftreehuis”, ’n tweeslaapkamerwoonstel op dié plaas sowat 10 km vanaf Brits.

Die plaas behoort aan hul seun, Sternberg du Plessis, wat in die plaashuis naby sy ouers woon.

“My ander seun, Ruan, het kom kuier. Hy, sy vrou en ons kleindogter (2) het Saterdagaand omtrent 23:00 by ons aangekom. Ons het heerlik op die stoepie gesit en kuier,” sê Du Plessis.

In ’n stadium het die familie inbeweeg en in die sitkamer gaan sit. “Ons het skaars gesit, toe staan daar drie mans teen die een muur,” sê Du Plessis. Die rowers het hul vuurwapens gewys.

“Ek vermoed hulle moes agter ons ingeglip het voordat die deur behoorlik toegegaan het. Jy kan nie glo hoe vinnig so iets gebeur nie!”

Dalene het kopgehou en probeer om by hul slaapkamer, wat aan die sitkamer grens, uit te kom.

“Die paniekknoppie het in die kamer gelê,” sê Du Plessis.

Een rower het haar vasgegryp en haar met die geweer in haar ribbes geslaan. Sy het baie seergekry.

Herman du Plessis

“Een rower het haar vasgegryp en haar met die geweer in haar ribbes geslaan. Sy het baie seergekry. Ruan het opgevlieg om sy ma te gaan red. Terwyl hy met die rower stoei, het ek besef iemand anders moet die ander twee besig hou.”

Du Plessis het op hulle afgestorm en van die sitkamer tot op die stoep met hulle gestoei. Hulle het hom herhaaldelik met die vuurwapens oor die kop geslaan. “Daar is drie wonde aan my kop en my oog is nog potblou en toegeswel.”

Hy sê hy het baie hard tydens die struweling om hulp geskree.

“Sternberg het my by sy huis gehoor, sy pistool gegryp en na ons woonstel gehardloop. Hy het so in die hardloop al ’n waarskuwingskoot geskiet.”

Die voorval het ongeveer 15 minute geduur.

Die een rower het glo teruggeskiet, maar al drie het toe laat spaander.

Die voorval het ongeveer 15 minute geduur.

“Hulle het my vrou se trouring en selfoon en Ruan se trouring en horlosie gesteel,” sê hy. “Ons is gespaar deur die genade alleen.”

Die nooddienste is ontbied en het hulp aan Du Plessis, sy vrou en seun verleen.

Hy sê die polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof. Die polisie kon nie Dinsdag vir kommentaar bereik word nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!