Boer van Oos-Kaap vir dood agtergelaat na plaasaanval

Op dieselfde dag waarop sowat 1 500 optoggangers na die Uniegebou in Pretoria opgeruk het uit protes teen plaasmoorde, is ʼn man in ʼn kritieke toestand in die hospitaal opgeneem ná ʼn aanval op ʼn plaas in die Oos-Kaap.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê Riaan Scheepers is omstreeks 09:00 na ʼn hospitaal in Port Alfred gehaas voordat hy glo na ʼn hospitaal in Port Elizabeth oorgeplaas is. Volgens Cameron is Scheepers op sy plaas in die Alexandria-omgewing erg aangerand, vasgebind en “vir die dood agtergelaat”.

Cameron het gesê AfriForum is tans nog besig om die presiese gebeure vas te stel.

Kapt. Mali Govender, woordvoerder van die polisie, het gesê Scheepers is deur twee aanvallers in sy huis oorval. “Hy is ernstig aangerand. Die verdagtes het met sy bakkie gevlug, maar dit is later teruggevind. ʼn Rewolwer is ook vermoedelik tydens die aanval gesteel,” het Govender gesê.

Sy het gesê Scheepers is tans in ʼn stabiele toestand. “Presiese besonderhede rondom die voorval is nog nie bekend nie en ʼn ondersoekspan gebruik tans al die hulpbronne tot hul beskikking om die oortreders op te spoor.”

Govender het ʼn beroep op enigiemand met meer inligting gedoen om kapt. Leon Els by 083 387 0749 of Stop Misdaad by 0860 10111 te bel.

ʼn Saak van huisroof word ondersoek.

Foto’s nie vir sensitiewe kykers nie.

p4         p3

p2         p1


 

Enjoyed this post? Share it!