Boer van Theunissen-distrik 4maal met tuinvurk gesteek tydens aanval

ʼn Boer van die Theunissen-distrik in die Vrystaat is Donderdag tydens ʼn aanval op sy plaas vier keer met vermoedelik ʼn tuinvurk in sy gesig en rug gesteek.

Louis Kotze en sy vriendin is omstreeks 18:20 in sy huis op sy plaas Kopfbrunen deur drie verdagtes oorval net nadat hulle op die plaas aangekom het.

Vrystaat Landbou het in ʼn verklaring gesê Kotze is vier keer tydens die aanval met die tuinvurk gesteek en het 16 steekwonde opgedoen.

Kapt. Malebo Khosana, polisiewoordvoerder, het gesê ʼn struweling het tussen Kotze en die aanvallers ontstaan.

Volgens Khosana het die verdagtes met twee sakke vol klere op die vlug geslaan. Kotze se vriendin kon die polisie ontbied en hy is na ʼn hospitaal in Bloemfontein gehaas.

Alani Janeke, woordvoerder van Vrystaat Landbou, het gesê ongeveer 50 van die omliggende boere en inwoners het met 30 voertuie die paaie tussen Theunissen en Windburg gepatrolleer op soek na die drie verdagtes.

Die gesteelde goedere is later ongeveer 500 m van die toneel gevind. Volgens Janeke word die motief vir die aanval nog ondersoek, asook hoe die aanvallers
toegang tot Kotze se huis verkry het.

Khosana het gesê sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer en diefstal word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou se Landelike Veiligheidskomitee, het gesê daar was die afgelope jaar verskeie
voorvalle in die provinsie waar aanvallers toegang tot die slagoffers se huise verkry het sonder om deure oop te breek of die slagoffers buite die huis in te wag.

“Dit is ’n bron van kommer en ons wil landbouers aanmoedig om streng sleutelbeheer toe te pas,” het Esterhuyse gesê. “[Landbouers
moet] ook oplettend wees vir enige vreemde situasies wanneer hulle by hul huise aankom. Verder wil ons weereens die belangrikheid van goeie verhoudinge met werkers beklemtoon, ook wat kommunikasie ter bevordering van veiligheid betref.”

Esterhuyse het die landbouers in die omgewing van Theunissen en Winburg, asook die polisie bedank vir hul vinnige optrede ná die aanval op Kotze se plaas. Hy het gesê dié aanval was die vierde plaasaanval in dié provinsie sedert 13 Julie.

“Op 13 Julie 2017 het ’n aanval op ’n kleinhoewe in die Oranjeville-gebied voorkom, op 17 Julie is ’n voorval op ’n kleinhoewe in die Navalsig-gebied by Bloemfontein aangeteken, wat gevolg is deur ’n voorval op die plaas Habitali naby Rosendal op 19 Julie,” het hy gesê.

“In al drie gevalle is werkers beroof en vasgebind. In twee gevalle het aanvallers erwe betree nadat eienaars die perseel gedurende daglig verlaat het. Die verdagtes was in al drie voorvalle gewapen en het werkers buite wonings aangeval. Selfone, rekenaartablette, televisies, kontant, juwele en selfs ’n sleepwa is geroof.”

Deur: Mariné Lourens/Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!