Boere brood

Boere brood

brood

Basiese konsepte

  1. Tipe gis wat gebruik wod:. Die kits pakkies gis wat mens kry, gee nie die geur wat brouersgis gee. Dus as jy haastig is gebruik die kits-gis. Maar as jy die brouersgis gebruik om geur en tekstuur in die brood te verbeter, sal jy nie noodwendig langer neem nie. Die brouersgis se aktiwiteit neem nie so vinnig af soos kits gis nie.
  2. Hoe gebruik mens kits gis: Kits-gis word direk in die meelmengsel gevoeg en word dan geaktiveer met die suiker en water wat bygevoeg word.
  3. Hoe gebruik mens brouersgis of saamgepersde koekies gis: die gis word by 250ml sterk louwater gevoeg met 1 eetlepel suiker. Die suiker is die kos vir die gis om te begin vermeerder. Die mengsel moet goed geroer word dat die korrels en of die saamgepersde koekie goed oplos. Na ‘n paar minute sal jy ‘n skuimlagie sien vorm wat ten minste dubbel die volume moet skuim. Dan is dit gereed om te gebruik. Maak asb seker dat as jy saamgepersde gis koop dat dit nie verval het. Voeg dan die vloeistof by die meelmengsel en volg resep.
  4. Faktore wat ‘n harde of sagte korsie gee: as jy ‘n sagte korsie wil hê moet jy ‘n bakkie met water binne in die oond sit, wat stoom maak sodat die korsie nie uitdroog nie. As jy aan winkelbrood dink dan is dit sag…al daardie industriele oonde het ‘n stomer in wat die brood sag en klam hou. Dus ‘n harde krakerige korsie word gebak sonder die stoom.
  5. Nadat die brood uit die oond kom: kan jy die hele brood met botter smeer om die korsie sag, sout en effens taaierig te maak, jy kan die brood met water smeer en toedraai. Of los net so vir ‘n harde korsie. Daar is baie maniere om so ‘n brood te behandel nadat dit gebak is.
  6. Brood moet geknie en afgeknie word en dan dubbel rys: wanneer jy die brood knie is dit nie ‘n boksgeveg nie. Die rede hoekom ons deeg knie is om die gluten (‘n protein in die koring) te ontwikkel en sag te maak. Brood mag nie minder as 10 minute geknie word. Dit is letterlik wegstoot met hand, vou kante in, stoot weg, vou kante in en hou so aan. Jy kan selfs die deeg in wors rol en slaan teen oppervlak…maar baie gevorderde tegniek. Dan laat jy die deeg rus sodat dit dubbel sy volume rys. Knie weer vir 5 minute om alle lug borrels te verwyder en die gluten verdet te ontwikkel. Gluten is die raamwerk van die brood. Sodra dit hitte kry en rys agv gasse en stoom koaguleer (set) en daarom dat die brood hoog rys. Maak dan jou panne op en laat weer dubbel rys. Daarna is die brood gereed om te bak.
  7. Funksie van melk en botter in broodbak: die vette in die melk en botter het ‘n versagtende effek op die gluten en dus verkry jy ‘n baie fyn en sagte tekstuur brood.
  8. Suur reuk en smaak in brood: die newe produk van gis en suiker as dit te veel gis is alkohol….dis die suur reuk en smaak

Boere brood

1kg  Snowflake witbrood meel (ek vind Snowflake se meel is ekstra fyn gemaal)

10ml Sout

10ml Suiker

1 Brouersgis, sakkie

25ml  Botter

50ml Melk, lou warm

600ml Sterk lou water (250ml vir gis aanmaak en res vir knie)

Metode:

  1. Los die gis en suiker in 250ml sterk louwater op en laat staan 5 minute totdat skuim vorm. Sal lyk soos ‘n diklaag skuim op bier.
  2. Sif meel en sout saam.
  3. Vryf die botter in die meel in totdat dit nie meer sigbaar is.
  4. Voeg nou die oorblywende water en melk by meel mengsel en knie vir 10 minute. Todat die deeg los kom van jou hande en die kante van die skottel. Keer uit en knie op meel bestrooide oppervlakte…oppas om nie te veel meel uit te sit…deeg kan te droog word…(die vog kan nogal problematies wees pas dit aan sodat dit ‘n  stywe maar nie harde deeg vorm, dus kan jy nog vog by sit as die deeg te hard is….as dit weer te slap is voeg meer meel by…) Laat deeg rus en rys tot dubbel die volume. Knie af vir 5 minute en vorm soos benodig (lang borde kan gemaak word). Laat weer dubbel die volume rys. Smeer met eiergeel en melk mengsel en strooi saadjies oor.
  5. Bak vir 35 minute by 200°C in voorverhitte oond. Die brood is gaar as jy daarop klop en dit het ‘n hol geluid en trek los van die kante van die panne.

Lewer: 2 brode of 12 rolletjies

Kosmaak en gesels

Enjoyed this post? Share it!