Boere kla nie verniet oor SAID nie – SAID sloer doelbewus met terugbetalings

Terwyl talle boere steeds probleme met BTW-terugbetalings en dieselrabatte ervaar, blyk dit asof die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) doelbewus met terugbetalings gesloer het.

Die belastingombudsman, Regter Bernard Ngoepe, het in ‘n ondersoek oor SAID-terugbetalings bevind dat die SAID geverifieerde terugbetalings aan belastingbetalers vertraag het en dat dié probleem sistemies van aard geword het.

In ‘n verslag oor die ondersoek het Ngoepe geskryf dat die stelsel nie belastingbetalers bevoordeel nie.

Mnr. Bart Linde, van Nic Linde en seuns Boerdery (pty) ltd by Frankfort, is raadop gesukkel met stadige terugbetalings. Linde sê na hy die nodige dokumentasie gestuur het, het die SAID outomaties aftrekkings gedoen. Linde het ‘n bedrag van etlike duisende rande in April met ‘n VAT201 elektronies inbetaal. In Junie 2016, het Linde weer ‘n groot betaling aan die SAID gemaak.

“Dieselfde dag toe ek betalings maak, het die SAID boetes gehef,” sê hy. Linde twyfel in die stelsel wat gebruik word om terugbetalings te prosesseer. “Die stelsel is óf gemanipuleer óf werk op ‘n problematiese wyse, wat my bitter bekommerd,” sê hy.

Doeltreffend?
Die SAID het in ‘n verklaring gesê hy is toegewyd om sy rol as ’n doeltreffende en effektief belastingowerheid te vertolk en het sy volle samewerking tydens die ondersoek gegee.

“Tydens November 2016 tot Maart 2017 is sowat 500 klagtes ontvang en meer as die helfte is geldig,” lui die verklaring.

“Dit is belangrik om op te let dat die Belastingombudsman se bevinding gemaak is ten opsigte van minder as 1% van al die terugbetalings wat die SAID verwerk.”

Die SAID het reeds sekere korrektiewe maatreëls geïmplementeer en het onderneem om die gapings wat in die belastingombuds verslag geïdentifiseer is, te sluit.

Deur: Landbou.com


Enjoyed this post? Share it!