Boere-konvooi wil N1 tot stilstand bring ter herinnering aan vermoorde boere in SA

Boere wil Maandag in ’n konvooi die pad van Klapmuts tot Kaapstad tot stilstand bring ter herinnering aan die boere wat in Suid-Afrika vermoor is.

’n Facebookgroep wat reeds 1 300 mense se belangstelling getrek het, doen ’n beroep op boere om in ’n konvooi van Kanonkop by Stellenbosch tot Kaapstad te beweeg om teen plaasmoorde te protesteer met hul grootste plaasbakkies, trekkers, stropers of selfs “jou Polo met jou John Deere-sticker”.

Dit kom nadat Joubert Conradie (47) Dinsdagoggend op sy plaas Uitkyk naby Klapmuts doodgeskiet is toe vermoedelik drie aanvallers by sy plaashuis ingebreek het. Conradie het gewapen met sy pistool gaan ondersoek instel toe hy deur die aanvallers geskiet is. Niks is gesteel nie en die aanvallers het van die toneel af gevlug.

Intussen is daar Donderdagoggend by nog ’n plaas in Klapmuts ingebreek. Lt.kol. Andrè Traut het bevestig dat die inbraak omstreeks 02:30 plaasgevind het.

“Twee verdagtes het met elektroniese toerusting gevlug en niemand is nog in hegtenis geneem nie,” sê hy. Niemand is in die voorval beseer nie.

’n Lid van die plaaswag sê die inwoners van die huis het hulself in ’n kamer toegesluit en alarm gemaak.

Die idee van die gebaar is om die stad tot stilstand te bring.

Talita Basson, ’n student aan die Universiteit Stellenbosch, het Maandag se konvooi begin organiseer nadat sy Woensdag toevallig verby die byeenkoms van boere by Klapmuts gery het. Sy het van die pad afgetrek en die gebedsuur bygewoon en besluit om iets te doen.

“Ons wil wys dat boere gewillig is om saam te staan,” sê sy. Basson sê haar pa boer in Robertson.

Chris Loubser, ’n boer van Franschhoek, het Woensdag in ’n roerende Facebookvideo gevra dat mense Maandag swart klere dra om respek te betoon aan die boere wat hul lewe weens misdaad in Suid-Afrika verloor het, en het gesê dat boere nie saamstaan om standpunt teen plaasaanvalle in te neem nie.

Staan op en skree: Genoeg is genoeg! Die regering sal luister.

“Sonder boere sal ons landbou-ekonomie in duie stort,” het Basson op die geleentheid se Facebookblad geskryf. “Elke Suid-Afrikaner kan opstaan en dankie sê vir ’n boer wat toesien dat ons kos op die tafel het en dat ons nie lewe in bankrotskap nie. Staan op en skree: Genoeg is genoeg! Die regering sal luister.”

Die konvooi vertrek Maandag om 06:00 vanaf die Kanonkop-landgoed en sal van daar langs die R44 en N1 ry. Die plan is om tot by Kaapstad en om die sirkel by die Heerengracht te ry.

“Die idee van die gebaar is om die stad tot stilstand te bring,” sê Basson. Sy verwag dat sowat 5 000 mense in die konvooi sal ry.

Sy het die owerhede om toestemming genader om dit “so wettig as moontlik” te maak.

Verskeie mense van oor die land heen het Basson gekontak om soortgelyke konvooie in Pretoria en Bloemfontein te reël. “Ek hoop dat mense dit landwyd sal doen,” sê sy.

Kenny Afrika, Wes-Kaapse verkeershoof, sê dat hy gerugte van die beplande konvooi gehoor het, maar dat niks nog amptelik gereël is nie.


Enjoyed this post? Share it!

 
  • Dina Ronell Bezuidenhout

    Eks beslis daar. 3 uur opstaan. 6 uur daar