Boere kyk hulpeloos toe hoe diere vrek in doogtegeteisterde gebiede reg oor die land

“Die boere wat geraak word, moet hulpeloos sit en toekyk hoe al hoe meer van hul diere, wat ’n inkomste vir hulle en hul gesinne verskaf, elke dag verdwyn.”

So sê Imtiaz Sooliman, stigter van die nieregeringsorganisasie, Gift of the Givers, wat dit nou oorweeg om ’n vragmotor en sleepwa te koop om sodoende die droogtehulp wat hulle aan desperate boere in die Noord- en Oos-Kaap bied, uit te brei.

Dié organisasie het reeds in samewerking met die plaaslike Goeie Samaritane honderde tonne veevoer aan droogtegeteisterde gebiede oor die land heen geskenk, maar sê daar is nog baie om te doen.

Sooliman sê hy weet van minstens een boer wat twee maande gelede sy eie lewe geneem het weens die skade wat hy gely het.

Meer onlangs het ’n boer en sy vrou 157 kalfies waarvan die ma’s te swak en ondervoed was om na hulle te kyk probeer red. Slegs agt van die kalfies het oorleef.

“Hulle is heeltemal hulpeloos en besig om vinnig hoop te verloor en hul diere benodig dringend voer omdat die droogte alle plantlewe vernietig het. Maar daar is hoop.”

Volgens hom is veral Springbok, Eksteenfontein, Aberdeen en die omliggende gebiede swaar deur die droogte getref.

Boere wat moontlik hulp kan verleen, kan die tolvrye noodnommer 0800 786 777 bel indien hulle voer of ander hulp na die gebiede wil stuur.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!