Boere loop deur onder kapings in Gauteng Provinsie

Boere wat produkte met vragmotors in Gauteng vervoer, moet op die uitkyk wees vir misdadigers wat vragmotors moontlik kan kaap.

In een van ’n oënskynlike vlaag vragmotorkapings in Gauteng, is ’n vragmotor van die Beerseun Boerdery in Ofcolaco, Limpopo, opgespoor met die hulp van sosiale media.

Volgens mnr. Kobus de Beer, mede-eienaar van Beerseun Boerdery, is een van die boerdery se vragmotors Dinsdag helder oordag gekaap.

Gewapen

Dié vragmotor is deur ’n Volkswagen-motor agtervolg en insittendes het aan die vragmotor beduie om af te trek. Die bestuurder, wat saam met ’n helper in die vragmotor gery het, het gehoor gegee aan die versoek omdat hy onder die indruk was dat lede van die polisie in die Volkswagen was.

“Die verdagtes het koeëlvaste baadjies gedra en vir my werknemers beduie om in die Volkswagen se kattebak te klim,” sê De Beer. Die verdagtes was gewapen en het De Beer se werknemers gedreig. Beide bestuurder en helper is later ongedeerd in Lenasia afgelaai.

Hulp

De Beer het hom tot sosiale media gewend in ’n poging om die vragmotor op te spoor. Verskeie mense het hom gehelp om die vragmotor se besonderhede op sosiale media en deur WhatsApp-groepe te versprei. Uiteindelik is die vragmotor in Vereniging opgemerk en die boerdery se pakhuisbestuurder, mnr. Faggie du Plessis, is in kennis gestel.

“Die persoon wat die vragmotor opgespoor het, het ure gewag vir die polisie om op te daag,” sê De Beer. Hy sê hy het groot waardering vir die moeite wat dié vreemdeling gedoen het om seker te maak die vragmotor kom veilig by sy eienaar. “Ek is steeds verstom dat soveel mense ons inskrywing op sosiale media gedeel het.”

Sindikaat?

Hoewel dit die eerste keer is wat een van De Beer se vragmotors geteiken word, sê hy hy is bewus van medeboere wat ook al deurgeloop het. Verskeie mense het op De Beer se inskrywing aangemeld dat hulle ook weet van voorvalle.

Landbouweekblad het ook inligting ontvang dat vragmotors in Gauteng veral die afgelope ses maande geteiken word – met veral vragmotors wat vleis, vrugte en groente vervoer wat deurloop.

Hou Landbou.com dop vir die nuutste verwikkeling hier rondom.

Bron: Landebouweekblad
Deur Lisa Lottering – 14 Julie 2017


Enjoyed this post? Share it!