Boere se voer aan die brand gesteek – geen tekens dui aan dat dit ’n gewone veldbrand was

Ses boere van die distrik Bainsvlei net buite Bloemfontein ly honderdduisende rande se skade nadat hul store met voer vermoedelik Saterdagaand aan die brand gesteek is.

Nico van Oudtshoorn (73) en sy seun Johan (52), groente- en skaapboere van die plaas Kleinspringkraal, is 700 bale voer kwyt toe hul stoor, wat ’n paar meter weg van die plaasopstel geleë is, gebrand het.

“Dit werk uit op so R200 000 se skade, as jy die bou van die stoor inreken,” sê Nico.

Johan, wat verantwoordelik is vir die verkoop en aanry van die groente, sê een van die werkers se sinkhuisies, ’n paar honderd meter van waar die plaashuis is, het ook gebrand.

“Op ses plase in die distrik waarvan ons weet het die voerstoor en ’n werkershut op elke plaas tussen 19:20 en net ná 20:00 gebrand,” sê hy.

“Dit kon nie ’n gewone veldbrand wees nie, want die plekke waar dit gebrand het, is so tussen 3 km en 4 km weg van mekaar. Die vlamme kan nie so ver spring nie.

Ons vermoed sterk dat dit ’n groep mense is wat kwaadwillig is wat die boere se voer aan die brand gesteek het

Johan van Oudtshoorn, boer

“Ons vermoed sterk dat dit ’n groep mense is wat kwaadwillig is wat die boere se voer aan die brand gesteek het.”
Niemand het egter enigiemand gesien of iets gehoor nie.

Ook Wayde (Rasta) Letsooa, wat al die afgelope 13 jaar by Willie Pretorius, ook ’n boer, werk, sê hy het niks gesien of -hoor nie.

Hy bly ongeveer 30 m van die stoor af wat gebrand het.

“Iemand moes die brand begin het. Daar is geen tekens dat dit ’n gewone veldbrand was nie,” sê hy.

Cobus Venter, een van die omliggende boere wat Saterdagaand ingespring en help blus het, sê hulle is dankbaar dat die natuur aan hul kant was.

“Die wind was doodstil. Dit het eers hier teen 04:00 Sondag begin opsteek,” sê hy.

Johan sê hy is dankbaar vir die mense wat so vinnig die boere gehelp het.

“Binne ’n kwessie van drie minute was hier amper 100 boere en mense van die stad wat ingespring en help blus het.”

Cobus stem saam.

“Dis baie sleg dat dit gebrand het, maar dis lekker om te sien hoe die mense saamstaan,” sê hy.

Die boere het ook onder mekaar kos, klere en komberse ingesamel om vir die werkers te gee wat alles in die brande verloor het toe hul huise ook gebrand het.

“Gelukkig het niemand seergekry nie.”

Johan sê hy het die polisie probeer bel om die brand aan te meld, maar het Sondag nog geen reaksie van hulle ontvang nie.

Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê sover hy weet is die polisie nie oor die brande in kennis gestel nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!