Braai saam met Pa

Braai

VARKRIBBETJIE OOR KOLE
2kg varkkortribbetjies (“spare ribs”) in porsies gesaag sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
MARINADE:
2 uie, gekap 3 knoffelhuisies, fyngedruk
500ml rooibostee 250ml kookolie
250ml tamatiesous 250ml blatjang
75ml Worcestersous 125ml wynasyn of asyn
10ml aangemaakte mosterd
Meng die marinadebestanddele in ‘n kastrol. Verhit tot kookpunt en prut ‘n paar minute lank. Laat afkoel. Giet die koue marinade oor die ribbetjies en marineer oornag in die yskas. Verwyder die ribbetjie uit die marinade en druk droog met kombuispapier. Rooster ribbetjie 20-25 minute lank oor matige kole. Geur met sout en peper.

BILTONG, KAAS- EN UIE-POTBROOD
500g bruismeel 1 bier
1½ koppies gerasperde Cheddarkaas 250ml fyn (nat!) biltong
125ml fyn, bruingebraaide uie
Meng die meel en bier goed. Voeg 1 koppie kaas, die biltong en ui by en meng alles saam. Plaas dit in jou gesmeerde pot en bedek met die res van die kaas Bak tot gaar. Toets met ‘n skoon mes of totdat hy onderkant mooi hol klink. Eet warm met plaasbotter en konfyt
VARIASIES: (Sonder die biltong en uie)
‘n Pakkie droë, bruin uiesop.
‘n Eetlepel of twee Marmite of Frey Bentos.
Neute en rosyne.
Spek (brosgebraai en gekrummel)
Olywe, kappers en ansjovis
Baie vars knoffel en pietersielie; gemengde kruie van jou keuse.

MIELIEBROOD
150ml mieliemeel 550 ml koekmeel
25ml bakpoeier 15ml suiker
2ml sout 450ml melk
80ml olie 3 eiers
410g blik mieliepitte, gedreineer
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer en voer ’n broodpan uit. Sif die droë bestanddele saam. Klits die melk, eiers en olie saam. Voeg die melkmengsel en mieliepitte by en meng liggies. Giet die mieliemengsel in die broodpan en bak vir ongeveer 1 uur.

BRAAIVLEIS BROODJIE
500ml fyn gerasperde wortels 425ml kookwater
30ml olie 15ml heuning
500ml mieliemeel 2ml rooipeper
5ml sout 4 ekstra groot eiers, geskei
Voorverhit die oond tot 180C en voer twee broodpannetjies se bodem met bakpapier uit. Smeer of spuit die pannetjies. Meng wortel, kookwater, olie en heuning. Sif mieliemeel, peper en sout saam en voeg by die wortelmengsel. Klits eiergele en voeg by die mengsel. Klits eierwitte tot stywepuntstadium en vou dit liggies in by die mengsel. Skep mengsel in pannetjies en bak 45-50 minute.

E MOPANIEWURMS
MOPANIEWURMS WORD AS ‘N KONINGSDIS BESKOU.
gedroogde mopaniewurms tamaties (gesny)
uie (gekap) botter
rooirissiesous (na smaak) sout, peper en knoffelsout na smaak
Week mopaniewurms in water tot sag. Braai uie in botter. Voeg res van bestanddele by en prut oor lae hitte tot sag. Bedien met putu pap en ‘n glasie yskoue mampoer.

AARTAPPELS VIR BRAAIVLEIS
1kg baba-aartappeltjies, skoon afgewas 25ml olie
1 groot ui, gehalveer, geskil en fyn gekap 2 knoffelhuisies, gekneus, fyngemaak
25ml matige kerriepoeier 5ml borrie
1 brandrissie, ontpit en gekap 3 suurlemoen of lourierblare
15ml fyngekapte, vars gemmerwortel 30ml goue stroop
125ml wynasyn 125ml aftreksel
AFRONDING:
100ml grofgekapte koljanderblare(opsioneel)
Skep die aartappeltjies in ‘n kastrol, bedek met kraanwater, geur met sout, verhit tot kookpunt en kook vir 10 minute. Bedek en laat 5 minute staan. Verhit intussen die olie in ‘n groot kastrol en voeg die uie en knoffel by. Roerbraai vir 2-3 minute. Strooi die kerriepoeier, borrie, brandrissie, suurlemoenblare en gemmer oor. Voeg die gouestroop, asyn en aftreksel by. Verhit tot kookpunt en prut vir 2 minute. Dreineer die aartappeltjies en skep in kastrol met die sous. Strooi die koljanderblare oor en sit voor met braaivleis.

TJOPS MET HEUNING EN BLATJANG
8 lamslendetjops, 20mm dik
BEDRUIPSOUS:
80ml vrugteblatjang 45ml heuning
10ml vars gekapte pietersielie 5ml vars gekapte of 2ml droë roosmaryn
5ml mosterdpoeier 2ml kerriepoeier
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Meng al die bestanddele vir die bedruipsous.
Braai tjops 15-20 minute oor matige kole tot gaar en goudbruin, keer teen die einde van die gaarmaaktyd dikwels om en bedruip met sous. Sit dadelik voor.

BRAAITJOPS
25ml kookolie 2 groot uie, in skywe gesny
25ml bruinsuiker 3 lourierblare
12.5ml kerriepoeier 60ml asyn
2.5ml gerasperde lemoenskil 37.5ml fyn appelkooskonfyt
190ml water 10ml sout
8 peperkorrels 1kg skaapribtjops
Verhit die olie in die pan. Soteer die ui daarin. Voeg alles behalwe die vleis by en kook 15 minute lank. Laat afkoel. Pak die vleis in ‘n bak en gooi die afgekoelde sous oor die vleis. Marineer oornag. Rooster die vleis oor die kole. Kook die marinadesous nog 10 minute lank en gooi oor die vleis.

BRAAI WENKE
So maak mens jou braai beter as die buurman s’n:
BEESHAAS (STEAK)
Moet nie gevriesde steak ontdooi nie. Plaas dit net so op die vlamme en sout eers wanneer dit amper klaar is.
BOEREWORS
Ryg boerewors deur ‘n sosatiestok met uie tussen in. Braai die wors oor die koeler deel van jou vuur / kole. So laat jy dit stadiger kook. Moet nie die vel prik dat die vet uitkook nie. Die wors moet juis gaar kook in die vet om sodoende die smaak te behou.
Draai die wors om sodra jy kan sien die vet kook aan die binnekant. Moet nooit meer as tien minute aan ‘n kant braai nie. Doop wors in water voor jy dit braai. Dit verhoed dat die wors maklik oopbraai terwyl dit gebraai word.

FILET
Laat ‘n filet vir ‘n paar uur in Cola Cola marineer voor jy dit braai. Braai dit oor vlamme en sorg net dat die kante seël.
GROENTE
Maak ‘n sousie met gelyke hoeveelhede van balsemasyn, suiker en olyfolie en verf dit gereeld oor jou groente terwyl dit braai.
HOENDER
Kook hoender in Coke voor jy dit braai of 20 minute in water. Dit maak dit sag en smaakvol.
KRUIE
Gooi jou gunsteling kruie op die vuur vir ‘n aangename reuk.
KRUISSTUK (RUMP)
Marineer jou kruisstuk (Rump) oornag in sonneblomolie en worcestersous voor jy dit vinnig weerskante seël en dan verder braai soos jy dit verkies.
LAM
Vir ekstra geur gooi jy klam takkies roosmaryn of lourierblare in jou halfuitgebrande vuur waarop jy gaan lam braai.
MIELIES
Maak ‘n pasta van gemmer, rissie, olyfolie, heuning en sesamesaad en smeer oor mielies.
PIESANG
Braai piesang in die skil. Haal af sodra die skil begin swart word en sit voor met room.
PIESANGBLARE
Was ‘n piesangblaar en vou ‘n vis toe daarin. Stoom gaar op die braai, ± 45 minute. Probeer ‘n pasta van gemmer, suurlemoensap en olyfolie op die vis.
ROOSTER
Indien jou vleis vassit op jou rooster, maak dit skoon met jou draadborsel terwyl dit nog warm is en smeer ui daaroor.
SUURLEMOENSAP
Druk vars suurlemoensap oor hoender, groente, vis of lam net voor dit van die kole afkom vir ‘n pikante smaak.
TJOPS
Sprinkel suurlemoensap oor jou tjops voor jy dit braai. Dit maak dit sag. Laat jou tjops oornag in Coke lê. Die vleis is dan sag en smaakvol wanneer jy dit braai. Moet nie tjops sout voor jy dit braai nie. Dit maak dit taai.
KLAAR GEBRAAIDE VLEIS
Plaas die vleis wat reeds gebraai is op ‘n bed gebraaide uie. Dit verhoed dat die vleis uitdroog en dit gee die vleis ekstra geur.
VLAMME
Sit ys op die vleis indien die vlamme te hoog brand. Plaas ‘n koeldrankblikkie of bierblikkie ¾ gevul met water in die middel van jou kole. Dit verhoed dat vlamme, veroorsaak deur druppende vet, buite beheer raak.
VUURAANSTEKERS
‘n Alternatief tot vuuraanstekers is ‘n die onderste helfte van ‘n eierdoos gevul met ou kookolie. Plaas dit plat neer en bou jou vuur daarop.
IS
BIERMARINADE
175ml bier 100ml olie
1 ui, in ringe gesny 1 takkie pietersielie
1 lourierblaar 6 peperkorrels
1 gekneusde knoffelhuisie 30ml suurlemoensap
30ml suurlemoenskil, gerasper
Meng alles saam.

Deur kook saam met Pa

Enjoyed this post? Share it!