Breekpunt in Zimbabwe

Beitbrug
Suider-Afrika hou asem op om te sien wat in Zimbabwe gebeur nadat gewelddadige betogings plek-plek sedert Vrydag in dié land opgevlam het.

Die geweld het by Beitbrug, die grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe, begin uit ontevredenheid oor ’n verbod op die invoer van sekere goedere, soos meubels, aartappelskyfies en Cremora, uit Suid-Afrika.

Teen Maandag was Beitbrug rustig, maar gewelddadige betogings het opgevlam in Harare, Zimbabwe se hoofstad wat sowat 600 km noord van Beitbrug geleë is. Die polisie het daar met taxibase slaags geraak.

 In reaksie op die #ZimShutDown2016-beweging het die Zimbabwiese regering inwoners Dinsdagaand opdrag gegee om met hul normale pligte voort te gaan.

Dié hutsmerk het vandeesweek die ronde begin doen onder Twitter-gebruikers, wat ’n beroep op alle Zimbabwiërs doen om Woensdag te staak en winkels te sluit.

Die waarnemende minister van inligting, Joseph Made, het gesê die regering verwag veral van staatsamptenare om met hul werk voort te gaan.

Staatsamptenare, onder andere dokters en onderwysers, het beplan om Woensdag te staak.

Pres. Robert Mugabe se regering is glo platsak en het nie sy werkers se Junie-salarisse betaal nie.

Skole in Harare is Dinsdagoggend gesluit omdat onderwysers begin staak het, berig die Zimbabwiese nuusdiens NewsDay.

’n Paar onderwysers het aan NewsDay gesê die situasie is gespanne en weermagvoertuie is glo by sommige skole ontplooi om sake te monitor.

EWN berig sowat 57 mense is teen Dinsdagmiddag weens die geweld in Harare in hegtenis geneem.

71 mense is Vrydag in hegtenis geneem by Beitbrug, waar ’n staatspakhuis afgebrand is.

Bron:Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!