Bud Spencer sterf op 86

Die Italiaanse akteur Bud Spencer, gelief en bekend om die spaghetti-Westerns waarin hy gespeel het, is in die ouderdom van 86 jaar oorlede.

Spencer was veral bekend vir die meer as 20 rolprente wat hy saam met Terence Hill gemaak het.

Die BBC berig dat Spencer Maandag sag heengegaan het in sy huis in Rome.

 Spencer se geboortenaam was Carlo Pedersoli en hy is in Santa Lucia, Napels, gebore.

Sy vennootskap met Hill het met die rolprent God Forgives… I Don’t! (1967) begin en daarna het hulle verskeie silwerskermtreffers saam gemaak.

Van sy gewildste rolprente sluit in Ace High (1968), Trinity Is Still My Name (1971), Flatfoot(1973) en Banana Joe (1982).

Spencer was ’n man van vele talente. Benewens toneelspel was hy as jong man ’n uiters suksesvolle swemmer en het aan die 1952- Olimpiese Spele in Helsinki, Finland, deelgeneem.

Hy het ook ’n regsgraad verwerf.

Matteo Renzi, premier van Italië, het dié akteur op Twitter gegroet en gesê hoe gelief hy was.

Bron Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!