Bulhond Gerrie Nel pak ʼn Zuma in eerste saak

Duduzane Zuma, seun van pres. Jacob Zuma, blyk al weer in die sop te wees en dié keer het AfriForum se private vervolgingseenheid en sy hoof, adv. Gerrie Nel, hul visier op hom ingestel.

Dit is egter nie gerugte van sy betrokkenheid by staatskaping of sy goeie verhouding met die Gupta-broers wat Nel op sy spoor het nie, maar ʼn noodlottige ongeluk.

Maroela Media het in 2014 berig dat Zuma op 1 Februarie met sy Porsche in Graystonrylaan in Sandton teen ʼn minibustaxi gebots het. Phumzile Dube (30) is dood en nog twee mense, ʼn 72-jarige vrou en die taxibestuurder, is kritiek in dié ongeluk beseer.

Business Day het in Julie vanjaar berig dat Zuma ʼn prokureur sowat R700 000 betaal het om ʼn private konsultant aan te stel om drie spoedboetes van R7 000 te vereffen voordat ʼn ondersoek na die noodlottige ongeluk ingestel is. Die boetes was nooit deel van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoek teen hom nie.

Die NVG het besluit om Zuma nie verder te vervolg nie al het landdros Lalitha Chetty in haar uitspraak bevind hy was nalatig en dat sy optrede Dube se dood veroorsaak het. Daar is toe aangevoer daar is nie genoegsame bewyse nie en geen vooruitsig vir suksesvolle vervolging nie.

“As Gerrie Nel dié ongeluk veroorsaak het, sou hy na alle waarskynlikheid vervolg gewees het, maar noudat dit mnr. Duduzane Zuma is, is hy nie vervolg nie, al is daar feite en omstandighede wat ons laat dink suksesvolle vervolging is moontlik,” het Nel in ʼn eksklusiewe onderhoud met Maroela Media gesê.

Nel het verduidelik waarom AfriForum se private vervolgingseenheid besluit het om aansoek te doen om Zuma privaat te vervolg op ʼn aanklag van strafbare manslag.

“Ons stem natuurlik nie met die NVG se besluit in Augustus 2015 saam nie. Dit was ʼn ongeluk wat na my eenheid se mening veroorsaak is deur mnr. Zuma op die snelweg om 22:00 toe dit baie hard gereën het. Ons glo, en dit is ook waarom ons aansoek doen, daar is wel kanse vir ʼn suksesvolle vervolging,” het Nel gesê.

Dube se ma, wat nou die voog van die oorledene se vyfjarige dogtertjie is, en haar oudste broer sal deur die burgerregte-organisasie se eenheid bygestaan word in die proses van private vervolging.

“Die proses is reeds van stapel gestuur en die familielede het aangedui hulle het ʼn reg tot private vervolging. Sou die aansoek toegestaan word, sal ons namens hulle vervolg. Ons wag nou net om te hoor wat die NVG gaan sê en vir hulle om ʼn nolle prosequi-sertifikaat uit te reik,” het Nel gesê.

Dié sertifikaat sal ʼn bevestiging van die NVG wees dat hulle nie die saak verder wil vervolg nie en dit sal Nel se eenheid die geleentheid gee om die vervolging binne 90 dae in te stel.

Nel twyfel ook of die saak enigsins buite die hof geskik kan word. “Die NVG kan wel besluit om sy beslissing hieroor te heroorweeg en self te vervolg, wat goed sal wees.

“Daar is baie werk wat vir ons voorlê, maar ons is gereed daarvoor. Ons het aanvanklik toe ons hierdie kantoor gestig het, gesê die enigste doel van hierdie kantoor is gelykheid voor die reg sodat daar geen selektiewe vervolgings is nie,” het Nel bevestig.

Vir Nel en sy span gaan dit bloot oor gelykheid voor die reg: “As daar selektiewe vervolging is, kan daar nie geregtigheid wees nie.”

Nel, wat voorheen die bynaam Bulhond verwerf het, se span is oorgehaal om die Suid-Afrikaanse reg se waghond vir dié soort geregtigheid te wees.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!