Bulhond, Gerrie Nel slyp sy tande vir Zuma, Guptas

Gerrie Nel en die private vervolgingseenheid van Afriforum sal nie toelaat dat die omstrede Gupta-familie en pres. Jacob Zuma straffeloos wegkom met staatskaping nie.

As niemand anders hulle gaan vervolg nie, sál die nuwe eenheid waarvan hy die hoof is, hulle wil vervolg, het Nel Woensdagaand in Bloemfontein gesê. Hy het ook ’n hou gemik na korrupte sakelui, en gesê die eenheid sal ook teen hulle optree.

Nel het op ’n Afriforum-byeenkoms in die Rosestad gepraat en gesê hy is beslis van mening dat die gelekte Gupta-e-posse as getuienis in vervolging gebruik sal kan word.

Hy het verwys na die standpunt dat inligting wat onwettig bekom is, nie in so ’n saak gebruik kan word nie.

“Die argument hieroor is baie tegnies, maar die aanslag moet wees hoe om dit toelaatbaar te kan maak.”

Nel het gesê dit is belangrik om te onthou dat die vervolgingseenheid van Afriforum nie ’n parallelle vervolgingseenheid aan dié van die staat is nie. “Ons kan slegs vervolg as die nasionale vervolgingsgesag besluit het om nié te vervolg nie.”

Hopelik kan bloot die druk om self te vervolg, die vervolgingsgesag beïnvloed om tog op tree.

ONS DOEL IS NIE NOODWENDIG OM SELF TE VERVOLG NIE, MAAR OM DIE BEGINSEL VAN GELYKHEID VOOR DIE REG TE HERBEVESTIG.

“Indien ons aansoek doen om ’n sertifikaat om te vervolg en die vervolgingsgesag heroorweeg om te vervolg, sal ons dit steeds as ’n oorwinning beskou.

“Ons doel is nie noodwendig om self te vervolg nie, maar om die beginsel van gelykheid voor die reg te herbevestig.”

Nel het gesê in belang van vervolging sal dit substansieel belangrik wees om te kan bewys hoe Zuma en die Guptas se korrupsie die gemeenskap benadeel het om te verseker dat ’n sertifikaat vir vervolging bekom kan word.

’n Groot probleem is dat daar selektief in Suid-Afrika vervolg word.

Hy het gesê die Afriforum-eenheid sal ook en veral wil kyk na korrupsie op plaaslike vlak, en veral in die private sektor.

“Met die bou van die stadions vir die Sokkerwêreldbeker-toernooi in 2010 het stadsrade in Suid-Afrika R14 miljard meer vir die stadions betaal om dit gebou te kry soos wat daar samespanning tussen kontrakteurs en verskaffers was om geld uit die geleentheid te maak.

“Dit is sakemense in die private sektor wat hulle skuldig aan korrupsie gemaak het, tot so ’n mate dat dit Nkandla na kleingeld laat lyk.

“My doel met die nuwe eenheid is om seker te maak dat geregtigheied geskied en dat almal gelyk voor die reg is. Geregtigheid kan nie geskied as daar slegs selektiewe vervolging is nie.”

Hy het ook gesê gemeenskappe kan nie verwag dat politici en die regering morele leierskap moet openbaar as gemeenskappe korrup is nie.

MY DOEL MET DIE NUWE EENHEID IS OM SEKER TE MAAK DAT GEREGTIGHEIED GESKIED EN DAT ALMAL GELYK VOOR DIE REG IS. GEREGTIGHEID KAN NIE GESKIED AS DAAR SLEGS SELEKTIEWE VERVOLGING IS NIE.

Nel het gesê hy woon deesdae nie meer anti-korrupsie-werksessies by nie, want weinig word agterna ingestel om om voorkomend op te tree.

Hy het die Suid-Afrikaanse howe geloof vir die briljante werk wat gedoen word, soos met die Nkandla-uitspraak (in die konstituasionele hof) en hoofregter Mogoeng Mogoeng se uitspraak oor die “geheime stemming” wat volgens hom “briljante poësie” was.

Hy het ook ’n pluimpie uitgedeel aan die burgerregte-organisasie Afriforum wat die eenheid tot stand gebring het en wat geld gaan bestee om korrupsie te beveg.

“As mense net hulle werk doen soos Karen Ferreira van Transnet wat haar instelling gewaarsku het om nie rekenaars van ’n maatskappy aan te koop wat ’n front-maatskappy vir die Guptas was nie, is dit wonderlik. Dit vra gewone mense om op te staan en standpunt in te neem.”

Nel het gesê dit is hartseer dat Suid-Afrika eens in die internasionale wêreld as voorbeeld vir integriteit gebruik is en dat die land geval het tot waar dit vandag is.

By stadsrade in Suid-Afrika word die verkwisting van geld ervaar deur die versuim om dienste te lewer en dit is baie meer waarneembaar op plaaslike vlak.

Nel het bevestig dat hy beslis op 15 September na Bloemfontein gaan terugkeer vir die appèl oor die herinstelling van die 783 aanklagte teen Zuma wat in die Appèlhof aangehoor gaan word.

AS MENSE NET HULLE WERK DOEN SOOS KAREN FERREIRA VAN TRANSNET WAT HAAR INSTELLING GEWAARSKU HET OM NIE REKENAARS VAN ’N MAATSKAPPY AAN TE KOOP WAT ’N FRONT-MAATSKAPPY VIR DIE GUPTAS WAS NIE, IS DIT WONDERLIK. DIT VRA GEWONE MENSE OM OP TE STAAN EN STANDPUNT IN TE NEEM.

Deur Marietjie Gericke/Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!