Burgemeester se lyfwag wil rower fnuik, skiet sesjarige kleuter

Die lyfwag van ’n Oos-Kaapse burgemeester is in hegtenis geneem nadat hy glo sy wapen op ’n rower gerig het, maar ’n sesjarige kind raakgeskiet het.

Die man (31) is een van die lyfwagte wat vir Thobeka Bikitsha, Mnquma-munisipaliteit se burgemeester, werk.

Die skietvoorval het volgens die polisie Saterdagaand omstreeks 20:30 by Resevoir Hills se industriële gebied in Butterworth gebeur.

Die man het blykbaar ’n rooftog in die straat aanskou. Die lyfwag het glo die rower probeer skiet, toe die koeël ’n sesjarige kind in ’n nabygeleë huis tref.

Kapt. Jackson Manatha, polisiewoordvoerder, sê Bikitsha was nie in die lyfwag se teenwoordigheid ten tyde van die voorval nie.

“Op die oomblik lyk dit of die voorval nie tydens ’n amptelike werksuitstappie gebeur het nie, en die man het toevallig die roof gesien,” sê Manatha.

Hy sê die kind is tans in ’n bestendige toestand.

Die lyfwag het homself by die polisie aangemeld en hy is steeds in aanhouding, sê Manatha.

Die man sal Maandag in die landdroshof in Butterworth op ’n aanklag van poging tot moord voorkom.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!