Burgemeester van Kimberley onder skoot oor sy ‘Nkandla’

Die DA beweer die uitvoerende burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley se luukse woning is ’n “Nkandla” wat deur belastingbetalers gefinansier word.

Hulle wil Mangaliso Matika by die openbare beskermer (OB) vir beweerde vergrype aankla.

Philip Vorster, DA-raadslid, beweer Matika het onwettige binnenshuise versiering en toebehore vir sy huis ontvang.

“Die munisipaliteit betaal sy verblyf. Die raad het ’n voorstel van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings in 2014 afgekeur om die burgemeester se verblyf te betaal.

“Die betaling van Matika se huur van R14 000 per maand in Henry Schmidt-straat is nooit deur die raad goedgekeur nie.

“Boonop is die binnenshuise versiering en toebehore deur die munisipaliteit betaal. Dit sluit ’n TV van R26 000, gordyne van R52 000, ’n hoëtroustel van R15 000, kristalware van R26 000 en kombuistoestelle van R44 4000 in.

“Die rekords van die munisipaliteit toon ook dat die betalings verdeel is, sodat die bedrae kleiner is. Dit is gedoen om die aankoopproses te omseil.

“Matika het nou sy ware kleure gewys. Soos talle ander ANC-politici plaas hy sy eie gerief bo die lot van die armes.

“Matika is nie bevoeg om die pos te beklee nie. Die OB moet ons klagte ondersoek om te bevestig dat korrupsie reg onder almal se neuse plaasvind.

“Miskien kan die DA genoeg steun kry om ’n mosie van wantroue teen hom in te stel.”

George Mosimane, die burgemeester se woordvoerder, het nie op navrae reageer nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!