Burgemeester van rassisme beskuldig ná hy wit mense as “ett**s” op Facebook verwys

Bewerings van rassisme word teen Norman van Wyk, ANC-burgemeester van die Kareeberg-munisipaliteit in Carnarvon, gemaak nadat hy glo op 31 Desember 2017 om 14:04 na wit mense as “ett**s” op Facebook verwys het en dat hy iemand wil “m**r”.

Terwyl die DA eis dat die ANC teen Van Wyk optree, wil die VF Plus met Van Wyk vergader.

In die Facebook-plasing het Van Wyk na bewering gesê: “Ek is net so moeg van die klomp wit ett**s wat maak of die son uit hulle gatte uitskyn, hulle sal moet begin verstaan dat radikale transformasie moet en gaan plaasvind en diesulkes moet die punch kan vat wanneer ons hulle gaan vervreem van hul gronde af, ek is moeg vir superrasse wat net wil kritiseer en f**** doen nie, die bliksems koop jaar na jaar nuwe voertuie soos bakkies en you name it en niemand praat nie.”

fb plasing

Van Wyk dreig na bewering ene Soontjie en “nooi hom na sy huis of sy office sodat hy gemoer kan word. Mayor of nou nie mayor kom sien my.”

Van Wyk het Sondag gesê hy gaan nie die plasing erken of ontken nie.

“Ek wil eers met my leiers praat. Jy kan my môre bel.”

In reaksie sê Naledi Goasekwe, woordvoerder van die ANC, dat die party se belangrikste oogmerk is om ’n verenigde, nie-seksistiese en demokratiese samelewing te skep.

“Die aanmerkings druis teen die ANC se beginsels in. Ons kan nie bevestig of Van Wyk die aanmerkings op sy eie Facebook-bladsy gemaak het nie. Indien die burgemeester dit gemaak het, sal ons ondersoek instel en die nodige stappe doen.

“Die ANC gee die versekering dat ons gewalg is,” sê sy.

Andrew Louw, DA-leier in die Noord-Kaap, eis dat die ANC tugstappe teen hom doen.

“Hoe kan hulle toelaat dat ’n gemeenskapsleier, ’n burgemeester nogal, só iets kwytraak? Hulle behoort hulle te skaam.

“Sy aanmerkings is onaanvaarbaar en uiters teleurstellend.
“Carnarvon het baie diensleweringsprobleme en ’n tekort aan water. In plaas van bewerings wat aan rassisme grens, moet hy eerder dienslewering verbeter en al die gemeenskappe dien.

“Dit is onaanvaarbaar dat ’n leier in ’n jong demokrasie so ’n voorbeeld stel. ’n Leier tree nie so op nie al is hy hoe kwaad. Hy moet verantwoordelikheid vir sy uitlating neem.”

Die DA oorweeg stappe teen Van Wyk.

Wynand Boshoff, Noord-Kaapse VF Plus-leier, sê hy wil met Van Wyk gesels

In ’n brief aan Van Wyk sê hy dat die inskrywing “ons ondersteuners ontstel en dat die verspreiding nie gaan ophou omdat dit verwyder is nie. Ons kan oor grondbesit die debat polariseer en veral rassegroepe teen mekaar afspeel.

“Só ’n benadering kan net verloorders oplewer. Ons as Noord-Kapenaars wil ons kennis, hulpbronne en inisiatief byeenbring om ons streek ten beste te ontwikkel.

“ ’n Spiraal van vyandigheid moet êrens verbreek word, anders sal my mense genoodsaak word om hul kennis, tegnologie en ervaring te gebruik om hierdie vyandigheid die hoof te bied. Ek steek my hand na u uit om die teenoorgestelde te bereik.”

Deur: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!