Bylmoorde in Stellenbosch

Byl moordePolisie-ondersoekers se fokus op ’n urienkol in die De Zalze-moordsaak is uit nood gebore.

Want amper 16 maande nadat drie lede van ’n Stellenbosse gesin op die spoglandgoed met ’n byl doodgekap is en nog een erg beseer is, sukkel die polisie om enige noemenswaardige vordering in die saak te maak.

Die ondersoekspan hoop nou dat ’n nadere kykie na ’n urienkol op ’n slaapbroek wat ná die moorde uit die huis van die Van Breda-gesin geneem is, kan help bepaal of drank en dwelms dalk ’n rol in die aanval gespeel het.

Bronne na aan die polisie-ondersoek het aan Rapport gesê die slaapbroekie is nou al maande lank in die visier van die desperate polisie, wat deurloop onder kritiek omdat min getuienis sover versamel is en ’n verdagte nog nie geïdentifiseer is nie.

Die 54-jarige sakeman Martin van Breda, sy vrou, Teresa (55), en hul oudste seun, Rudi (22), is op 26 Januarie verlede jaar in hul huis op die De Zalze-gholflandgoed buite Stellenbosch vermoor. Hul 16-jarige dogter, Marli, het die erge aanval met kopwonde oorleef en het nou geheueverlies.

Die seun Henri (toe 20) het met geringe skrape ontkom.

Adv. Rodney de Kock, direkteur van openbare vervolging in die Wes-Kaap, het verlede week gesê ’n besluit oor vervolging word nog oorweeg. Volgens De Kock se woordvoerder, Eric Ntabazalila, is daar “voortdurende skakeling met die polisie, maar ongelukkig kan ons nie kommentaar lewer oor sake wat steeds ondersoek word nie”.

Betroubare bronne in die polisie sê die vervolgingsgesag is slegs “besluiteloos”, want die dossier op De Kock se tafel is so lig in die broek.

Daar is nog nie eens sekerheid oor wat presies die rol van ­Henri tydens die aanvalle was nie. Kort ná die moorde het die familie egter vir hom ’n sterk regspan aangestel.

“Henri was op die moordtoneel, maar ja, hy het mos in die huis gewoon. Hy het ook ’n getuieverklaring afgelê en is blykbaar dus nie daardie dag vir byvoorbeeld bloedtrek geneem nie,” is aan Rapport gesê.

’n Broekie uit die huis is eers 11 maande later, in Desember, saam met ander items na die nasionale forensiese laboratorium in Pretoria gestuur om ’n “tweede mening” te kry.

Henri is die klaer in die saak, want hy het die polisie gebel.

Toe die nooddienste die betrokke oggend voor huis nr. 12 in Goskestraat stilhou, het Henri, selfoon in die hand, voor die voordeur gestaan.

Hy is vir skrape aan sy lyf behandel en daar is met ’n klein flitslig in sy oë geskyn om te kyk hoe die oë op die lig reageer.

“Hoe sy pupille gereageer het, indien dit opgeteken is, en daardie senuagtige laggie toe hy die nooddienste geskakel het, is glo iets waarna die polisie ook gekyk het,” sê ’n polisiebron.

Bron: Netwerk24

Enjoyed this post? Share it!