Carl Niehaus, ANC en Zuma lojalis sê boere is diewe

Boere is diewe. Dit is die strekking van ANC en Zuma lojalis, Carl Niehaus, se woorde tydens ‘n onderhoud wat hy met die verlinkse koerant, Rapport, gehad het.

Omdat die grond gesteel is, glo Niehaus, wat self al met dade van oneerlikheid verbind is, moet dit deur die staat genasionaliseer word, alhoewel hy in sy “grootmoedigheid” sê boere kan steeds daarop boer, maar net solank hulle swart boere help bemagtig.

In die onderhoud blyk Niehaus ‘n totale “His Master’s Voice” van Zuma te wees, met ‘n woordelikse herhaling van geykte ANC en Zuma uitdrukkings en sonder enige vars insig op retoriese sake nie.

“Dit was in baie gevalle algehele diefstal en ek dink nie ons moet voortgaan met ’n beleid van betaal vir grond wat in werklikheid gesteel is van die meeste swart mense van die land nie,” het hy skynbaar woordeliks aan Rapport gesê.

Hy glo ook dat Nkosazana Dlamini-Zuma, die beste kandidaat is om Jacob Zuma op te volg.

In die verlede het TLU SA al ‘n beloning van R1 miljoen belowe aan enigiemand wat kan bewys dat enige van sy lede grond gesteel het. Skynbaar het Niehaus geen sodanige name beskikbaar nie.

Foto – Die voormalige woordvoerder van die Suid-Afrikaanse regerende party, die ANC, Carl Niehaus.

Die Vryburger, 28-08-2017


Enjoyed this post? Share it!