Chaos toe Shosholoza Meyl-trein ontspoor in Vrystaat

Talle mense is vermoedelik beseer nadat die Shosholoza Meyl-trein Donderdagoggend net buite Kroonstad in die Vrystaat ontspoor het.

ʼn Video wat na die ongeluk geneem is toon hoe verskeie van die treintrokke aan die brand geslaan het terwyl ander omgeslaan het.

Tiaan Esterhuizen, wat een van die passasiers op die trein was toe die voorval gebeur het, het aan die media gesê die voorval het omstreeks 09:15 gebeur. Die trein was van Port Elizabeth na Johannesburg op pad en was volgepak met grootliks vakansiegangers.

“Ons was in die restaurant-gedeelte van die trein waar almal besig was om ontbyt te eet toe ons ʼn ruk gevoel het en toe nog ʼn ruk soos die trein tot stilstand kom. Van die mense het na die tyd vir my gesê hulle het gehoor hoe die trein lank die toeter blaas voordat die ongeluk gebeur het,” het hy gesê.

“Ons het dadelik na ons familielede toe gehardoop en toe uit die trein gekom om te probeer uitvind wat gebeur het.”

Volgens Esterhuizen vermoed hy dat ʼn vragmotor op die treinspoor tot stilstand gekom het en nie betyds uit die pad kon beweeg nie. Die oorsaak van die ongeluk kon egter nog nie deur amptelike bronne bevestig word nie.

Esterhuizen het gesê daar is tans talle paramedici, brandbestryders, ambulanse en ander nooddienste op die toneel. Hy kon nie meer inligting gee oor hoeveel mense beseer is nie, maar het gesê hy vermoed dat daar wel mense in die ongeluk gesterf het. “Ons is met vakansie en het juis met die trein gery omdat ons gedink het dit sal veiliger wees as om op die pad te wees.”

ʼn Plaaslike woordvoerder van die Shosholoza Meyl het bevestig dat sy op pad is na die toneel toe, maar het gesê sy is nie gemagtig om met die media te praat nie.

ʼn Woordvoerder van ER24 kon ook nie onmiddellik meer inligting verskaf nie.


Enjoyed this post? Share it!