Clive Derby-Lewis met mediese parool

Clive Derby-Lewis slaap tuis na hy Vrydag laatmiddag vrygelaat is.

Clive derby lewis

Clive Derby-Lewis het Vrydag omstreeks 18:00 sy eerste tree as ’n “vry man” by die agterdeur van die Eugène Marais-hospitaal in Pretoria gegee.

Hy het by die agterdeur uitgeglip terwyl twee motors voor gewag het om hom huis toe te neem.

Derby-Lewis het lewenslange tronkstraf uitgedien vir die moord op Chris Hani in 1993, maar mediese parool is verlede Vrydag aan hom toegestaan.

Die departement van korrektiewe dienste kan dalk nog appèl aanteken teen die hooggeregshofbevel wat hom verplig het om mediese parool toe te staan.

Vrydagoggend was daar aanvanklik verwarring oor waar Derby-Lewis was. Hy is egter vroegoggend met ’n ambulans van die departement van korrektiewe dienste na die Little Company of Mary-hospitaal in Groenkloof, Pretoria, geneem vir skanderings in die onkologie-eenheid.

Daarna het dieselfde ambulans hom na die Eugène Marais-hospitaal teruggeneem.

Daar het hy onder swaar bewaking op sy eie die hospitaal binnegestap.

Hy het nie skoene aangehad nie en op sy sokkies geloop.

Die departement sou Vrydagoggend ’n mediakonferensie gehou het om Derby-Lewis se paroolvoorwaardes bekend te maak, maar dit is ter elfder ure gekanselleer.

Sewe beamptes van die departement het omstreeks 17:00 vir Derby-Lewis sy paroolvoorwaardes in die hospitaal kom voorlees.

’n Groot groep vriende het buite die hospitaal saamgedrom, maar sy vrou, Gaye, was nie daar nie.

Sy het by navraag gesê sy wou nie die media se aandag op haar gevestig hê nie.

Sy het gesê sy is verheug dat die departement nie appèl aangeteken het teen die hooggeregshofbeslissing nie en dat haar man uiteindelik huis toe kan gaan “vir die laaste ruk van sy lewe”
Deur George Germishuys Saterdag 06 Junie 2015 11:59
Nerwerk 24..

Enjoyed this post? Share it!