Coligny-moordsaak moet nie verpolitiseer word nie – laat die saak toegelaat word om sy gang te gaan

Die hofsaak waarin twee mans van Coligny tereg staan op die moord van ʼn swart seun, moet nie verpolitiseer word nie, en in die belang van gesonde regspleging moet die saak nou toegelaat word om sy gang sonder inmenging te gaan, sê Michal Groenewald, leier van die VF Plus in Noordwes.

Groenewald, wat die verrigtinge vanoggend bywoon waar die borgaansoek van Pieter Doorewaard en Phillip Schutte aangehoor word, sê luidens getuienis het die protes-aksie op die dorp duidelik as ʼn dienslewerings-aksie begin, en dat sekere elemente die voorval van die seun daarna aangegryp het om geweld aan te blaas.

Hy sê die gemeenskap moet nie toegelaat word om so ʼn groot invloed met die aanloop tot ʼn hofsaak uit te oefen dat ʼn landdros selfs vir sy lewe vrees nie.

“Dit is ongesond as ʼn situasie ontstaan waar die gemeenskap byna ʼn tipe boendoehof buite die hof vorm en mense skuldig bevind en as moordenaars bestempel nog voor die saak begin het.

“Die regsbeginsel dat niemand skuldig is totdat ʼn hof so bevind het nie, geld ook in hierdie geval,” sê Groenewald.

Bron: Vryheidsfront Plus
Mnr. Michal Groenewald


Enjoyed this post? Share it!