DA daag Eskom-base uit: Gee bonusse terug

Kaapstad. – Eskom se hoofde behoort die “regte ding” te doen en die kort- en langtermynprestasiebonusse van R18,3 miljoen wat aan hulle toegeken is, van die hand te wys.

Die DA het dié uitdaging gister aan Eskom se topbestuur gerig sodat die uitwerking van die 9,4%-tariefverhoging vir elektrisiteit waarvoor Suid-Afrikaners die hand diep in die sak sal moet steek, versag kan word.

Natasha Mazzone, DA-LP, het in ’n verklaring gesê dit is onmoontlik dat Eskom se uitvoerende hoofde prestasiebonusse kan ontvang, “terwyl byna alle bouwerk aan nuwe kragstasies hul begrotings oorskry en lank uitstaande” is. “Dit is ’n teken van grootskaalse onderprestasie wat die redes vir die toekenning van prestasiebonusse ongedaan maak.”

 Volgens Mazzone het Eskom-base meer as R73 miljoen aan bonusse ontvang sedert beurtkrag in 2008 begin het. Dit sluit die R18,3 miljoen uit wat vroeër vandeesmaand aangekondig is. “Dit is ’n belediging vir hardwerkende en arm Suid-Afrikaners wat voortgaan om te sukkel sonder die bestendige voorsiening van elektrisiteit en basiese dienste.”

Khulu Phasiwe, woordvoerder van Eskom, het egter die DA van “politiekery” beskuldig en gesê bonusse word deur die direksie bepaal. “Die uitvoerende hoofde het die gestelde teikens bereik en die bonusse is op grond daarvan bepaal.”

Die prestasiebonusse het ter sprake gekom te midde van berigte dat Brian Molefe, uitvoerende hoof van Eskom, gesê het die kragentiteit gaan ná die huidige ronde nie meer nuwe kontrakte met onafhanklike groenkragprodusente sluit nie.

Mazzone het daarop gewys dat dié besluit “verreikende negatiewe gevolge” vir die bestendigheid van die land se energievoorsiening inhou en onvermydelik sal lei tot kragonderbre-kings wat belegging sal onder-myn.

Phasiwe het in reaksie hierop gesê die kontrakte met 90 huidige groenkragprodusente gaan nie beëindig word nie. Hulle is aanvanklik ingebring om die kragnetwerk te stabiliseer.

Dié doelwit is bereik en ofskoon die land tans ’n surplus elektrisiteit produseer, gaan hul kontrakte nie beëindig word nie, het hy beklemtoon.

“Die duidelikheid wat ons wil hê, is oor die volgende ronde kontrakte met nuwe onafhanklike groenkragprodusente.”

Bron:Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!