DA-raadslid vas oor beweerde diefstal na hy lekkergoed gesteel het

’n DA-raadslid van Mpumalanga is in hegtenis geneem nadat hy glo produkte van die Usave Shoprite in Sabie gesteel het.

Die voorval het Vrydag plaasgevind toe die raadslid glo soetgoed gesteel het terwyl hy inkopies gedoen het.

Hy en ander lede van die DA was onderweg na Mbombela (Nelspruit) waar hulle aan ’n betoging sou deelneem en ’n versoekskrif aan Mpumalanga se provinsiale polisiekommissaris sou oorhandig.

Hulle het op pad na Mbombela stilgehou om padkos te koop.

Die raadslid se naam kan nie bekend gemaak word voordat hy nie Maandag in die Sabie-landdroshof verskyn het nie.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het gesê die beskuldigde is op borgtog van R300 vrygelaat en die saak “word nog ondersoek”.

Hlathi wou nie bekend maak wat die raadslid gesteel het nie.


Enjoyed this post? Share it!