DA val sy eie geskiedenis en liberale oorsprong aan op waansinnige wyse

Op ’n waansinnige manier het die Demokratiese Alliansie (DA) nou sy eie geskiedenis en liberale oorsprong begin aanval. Die gevolge sal vir Suid-Afrika se demokrasie en vir die DA nadelig wees.

Die Mail and Guardian het onlangs berig dat die leier van die party, Mmusi Maimane, gesê het die party sal verander om vir die armes te begin omgee – ’n verstommende belediging teenoor diegene wat vir die party gestem het, of in sy leierskap gedien het. Maimane het verder gegaan met die uitspraak dat die DA sy historiese posisie oor rasgebaseerde diensbillikheid verander het. Die beleid van die DA is nou: “Indien daar twee kandidate van verskillende rasse is wat om ’n werk meeding, moet die swarte gekies word.” Hy het ook gesê die DA glo dat kommersiële boere grond aan hul werknemers moet afstaan.

Kort op sy hakke haal die DA-LP, Gordon Mackay, Maimane goedkeurend in die Sunday Times aan waar hy sê dat “die gaping in klassieke liberale ideologie sy vermoë is om ongelykheid en regstelling te hanteer”. Dit nadat Mackay ten gunste van “’n Afrika-liberalisme wat bevoorregting verskans” geredeneer het.

Dit is tog loutere snert. Daar is bewys dat liberale beginsels soos ’n vryemarkstelsel en eiendomsregte sentraal staan tot ’n stygende globale lewenstandaard. Die verbeterings in sosio-ekonomiese toestande wat Suid-Afrika sedert 1994 ervaar het, het hoofsaaklik ontstaan uit die beperkte verruimende hervormings wat deur die African National Congress (ANC) ingestel is wat markte toegelaat het om doeltreffender te funksioneer sodat mense welvaart en eiendom kon byeenbring. Selfs op die moeilike politieke terrein van grondhervorming het onlangs gepubliseerde navorsing deur AgriSA vasgestel dat ’n kombinasie van uitgebreide eiendomsregte en ’n markekonomie meer gedoen het om historiese grondonregte te hanteer as die herverspreidingsbeleidstellings van die regering. Indien die bevrydende hervormings wat ná 1994 ingestel is selfs dieper was, sou baie meer bereik kon word en Suid-Afrika se ná-2007- ekonomiese ommeswaai kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die regerende party se omswaaiing van sy hervormings van vroeër.

Dit verg net die oppervlakkigste ontleding om te sien dat die beginsels van die klassieke liberale tradisie – die belangrikheid van eiendomsregte, ’n markekonomie, vrye spraak, en die regsoewereiniteit in ’n omgewing waar mense as individue en nie as lede van groepe nie getakseer word – sterk uitstaan op elke terrein waar Suid-Afrika sedert 1994 vordering gemaak het, terwyl dit op elke terrein waar die land tekortgeskiet het wel aanvalle op eiendomsregte, die ondermyning van markkragte en die erosie van die ruimte vir vrye spraak was wat na vore gekom het. Dit is nie ’n kwessie van dogmaties wees nie – maar wat ons nou in die DA sien, is nie buigsaamheid nie, maar eerder ’n ommeswaai van minstens vier van die beginsels terwyl die vyfde, vrye spraak, ook twyfelagtig is indien die standpunte van sommige lede van die party se binnekring geglo moet word.

Dit is ook nie ’n kwessie van of jy ten gunste van bemagtiging is of nie – ’n strik waarin die DA alte maklik gelei word. Die punt is of ’n bemagtigingsbeleid wat rondom liberale beginsels gebou is (soos die Ekonomiese Bemagtiging van die Verontregtes- (EED)-beleid wat by die IRV ontwikkel is) doeltreffender sal wees as een wat rondom die rassenasionalisme en staatsintervensionisme van die regerende party gebou is. Selfs die baasvegters van staatsgeleide welsynsprogramme moet erken dat dié programme slegs moontlik geword het omdat die ANC se beperkte bevrydende hervormings die ekonomie beter laat presteer het. Dit was, byvoorbeeld, deur skuldvlakke ná 1994 te halveer dat baie van die maatskapliketoelaag-programme gefinansier is – nie deur die vlakke van regeringsbesteding as ’n aandeel van BBP te verhoog nie. ’n Toekoms wat afhanklik is van meer staatswelsyn en inmenging in die ekonomie is ook nie wat Suid-Afrika wil hê nie.

Oor die hele land sien ons hoe die mense, as hulle enige keuse daaroor het, na die privaat sektor stroom om toegang tot alles van sekuriteit tot mediese dienste, onderwys, en kommunikasietegnologie te verkry. Dit is nie net die welgesteldes wat deur markte en private verskaffers bedien word nie. Baie arm huishoudings verkry ook regstreeks toegang tot private mediese dienste deur middel van kontantbesteding. Ons eie navorsing toon dat arm ouers skole kies wat aan hulle beheer oor die gehalte van onderwys gee wat vir hul kinders beskikbaar is.

Wat die DA se aanvalle op sy liberale oorsprong selfs dwaser maak, is dat dit die drogrede versterk waarop sy kritici staatmaak om hom te diskrediteer: dat klassieke liberalisme niks vir die armes bied nie en slegs dien om historiese onregte te verskans. Indien die probleem is dat die DA se marknavorsing toon dat mense dit verstaan as dat daar nie vir die armes omgegee word nie, kan dit net wees omdat die DA nie die voordele van klassiek liberale idees toereikend bevorder het nie – iets wat nie aangehelp kan word deur nou vir dié idees verskoning te maak nie.

Die DA se nuwe standpunte bring ook onsinnighede in omloop. Indien die DA werklik glo dat die swart mens altyd in diens geneem moet word wanneer twee mense om ’n werk meeding, waarom word soveel senior poste in die party dan deur wit mense gevul? Was daar geen swart aansoekers nie? Indien dit waar is dat DA-stemmers en -leiers histories gemotiveer is deur historiese onreg te bewaar, waarom sal enige ordentlike mens dan nou met die party verbind wil word?

Maimane het vroeër vanjaar vir die parlement gesê dit “maak my seer” dat die ANC nie meer die party van Oliver Tambo is nie – ’n geldige sentiment wat deur vele ANC-ondersteuners gedeel word. Maar die vraag is of dit aangewese is dat die DA voortaan die rol van ’n eertydse ANC sal speel. Die liberale tradisie was so ’n belangrike invloed in Suid-Afrikaanse politiek dat dit Suid-Afrika se demokrasie sou verswak om dit uit die politieke spektrum te sien verweer. En tog is dit nou dikwels moeilik om te ontkom aan die gevoel dat die DA-leierskap ’n punt bereik het waar hy, te maklik, saamstem met die ANC se historiese geringskatting van die liberale tradisie se eertydse beginsels, ondersteuners en leiers.

Dit verg so min om Mmusi Maimane se nuwe beleidsraamwerk te ontmasker as ’n swak deurdagte nabootsing van dié van die ANC dat die DA absoluut oortuig moet wees dat pres. Jacob Zuma se kamp die ANC-leierskapswedloop aan die einde van die jaar sal wen. Want indien Cyril Ramaphosa dié wedloop sou wen, sal dit moeilik wees om stemming vir die namaaksel te regverdig wanneer die oorspronklike beskikbaar is. Op grond van die manifes wat Ramaphosa onlangs vrygestel het, lyk dit of hy nie minder liberaal as die DA is nie, en in baie gevalle selfs meer so, in welke geval DA-ondersteuners heeltemal geregverdig sou wees om vir hom te stem.

Deur: Dr. Frans Cronje – Cronje is die HUB van die IRV – ’n dinkskrum wat politieke en ekonomiese vryheid bevorder.


Enjoyed this post? Share it!