Dalende grondpryse plaas verdere druk op Suid Afrikaanse boere

Dalende grondpryse plaas nog meer druk op boere wat reeds sukkel om kop bo water te hou.
‘n Ontleding van grondpryse in drie provinsies toon kommerwekkende tendense en is ‘n rede tot kommer vir grondeienaars in dié provinsies.

Die ontleding van grondverkope is van transaksies vir grond wat groter is as 10 ha in Limpopo, Gauteng en KwaZulu-Natal vanaf Junie verlede jaar tot Mei vanjaar.

Ses distrikte in Limpopo toon dalende grondprysneigings. Grondpryse in die distrik Musina het met 15,3% gedaal en met 9,8% in die distrik Soekmekaar. In die provinsie was daar 522 ooreenkomste in 13 distrikte wat 206 066 ha teen R2,814 miljard behels het. Daarvan was 19% transaksies van kleur. Dié soort transaksies sluit in verhandelings tussen individue, regeringsaankope van landbougrond en grond verkry vir stedelike ontwikkeling.

Dit het 16,2% van al die verhandelde hektare in Limpopo teen R444 miljoen (15,8% van die totale waarde) behels.

Dalings in elke distrik
In Gauteng was daar 505 transaksies wat 53 965 ha teen R6,927 miljard behels het. Daarvan was 130 (24,7%) ooreenkomste van kleur.

Meer as 61% van die transaksies was vir grond kleiner as 50 ha. Pryse in al die distrikte het gedaal. Die grootste daling, van 4,7%, is in die distrik Carletonville aangeteken. Altesame 401 transaksies in KwaZulu-Natal in 12 distrikte het grond van 122 044 ha teen R2,953 miljard behels. Daarvan was 31% transaksies van kleur.

Sowat 26% van die transaksies was vir grond groter as 300 ha. Grondpryse daal in dié provinsie al hoe meer, met dalende neigings in ses distrikte. Groot dalings is veral in die distrikte Port Shepstone (14,7%) en Jozini (10,3%) aangeteken.

Deur Johann Bornman

* Johann Bornman is ’n ekonoom en voorsitter van Agri Development Solutions


 

Enjoyed this post? Share it!