Derde van kos in SA weggegooi

9 miljoen ton voedsel gaan jaarliks verlore

te vra omdat die produkte nie “op die gewone standaard” is nie weens die droogte.

Maar volgens Oelofse gaan die meeste kos verlore nog voordat dit op winkelrakke beland.

“Vars produkte word nie altyd reg verpak en vervoer nie. Dit moet so gou moontlik ná die oes verkoel word en dan koud gehou word. Daar is egter gevalle waar die koeltrokke se verkoelingsmeganismes afgeskakel word om brandstof te bespaar.

“Verbruikers is ook kieskeurig en wil nie groente en vrugte koop wat misvorm is of merkies op het nie. Dié kos word tydens verpakking reeds uitgegooi.”

Ali Conn, stigter van UpCycle, ’n organisasie wat unieke maniere vind om vullis te herwin, sê Suid-Afrikaners gooi elke drie dae genoeg kos weg om die Kaapstad-stadion in Groenpunt vol te pak.

“Baie van die kos wat uitgegooi word, is nog heeltemal eetbaar.

“Dis nie die winkels se skuld nie, hulle mag volgens wet nie kos verkoop waarvan die rakleeftyd verstryk het nie.”

Oelofse sê datums wat op verpakkings van vars produkte aangebring word, dra ook by tot vermorsing. “As produkte verby die vervaldatum is, is dit nie noodwendig sleg of ongesond nie. Dit is slegs ’n aanduiding van hoe vars die produk is.”

’n Werknemer van die Tshwane-stortingsterrein in Onderstepoort sê lorries van slaghuise en groot kettingwinkels kom stort gereeld kos daar.

“Net vanoggend was hier ’n groot trok vol kos. Ons grawe ’n gat van ongeveer 2 m wyd en 3 m diep en begrawe die kos sodat boemelaars dit nie kom vat nie.”

Die werker se naam word nie genoem nie om hom te beskerm teen vervolging.

Groot kettingwinkels soos Woolworths, Spar, Shoprite en Pick n Pay het wel maatreëls om so min moontlik kos te mors en skenk kos wat nog nie verval het nie aan welsynsorganisasies.

“Pick n Pay het vanjaar 1 737 ton aan Foodbank SA geskenk om onder behoeftige organisasies te versprei,” sê David North, groephoof van strategie by Pick n Pay.

Die Shoprite-groep het verlede jaar R92,4 miljoen se kos aan Foodbank SA geskenk.

Ingrid van Heerden, voedingskonsultant van Pretoria, sê egter dis nie altyd maklik om kos by dié organisasies te kry voordat dit sleg word nie omdat hulle nie noodwendig die regte vervoermiddels tot hul beskikking het om die kos vars te hou nie.

Tinus Erwee, besturende direkteur van die Jakaranda- en Louis-Botha-kinderhuis, sê hulle is “absoluut afhanklik” van dié kosskenkings.

Bron: Rapport


 

Enjoyed this post? Share it!